Krieketweek byt byna in die stof weens transformasie en kostes
Die jaarlikse laerskole distrikte krieketweek het byna nie plaasgevind nie weens probleme rondom transformasie en buitensporige deelnamekostes. Ná onderhandelinge is ’n ooreenkoms bereik om gelykheid te verseker en kostes te beperk.
Die laerskole distrikte krieketweek wat onlangs plaas gevind het, het amper nie gebeur nie.
Dit nadat sommige distrikte nie aan transformasie teikens voldoen het nie, en die kostes vir spelers volgens Noordwes Krieket heeltemal te hoog was.
Kort voor die begin van die toernooi is ‘n skrywe van Noordwes krieket aan laerskole se distriksbestuur gestuur om die bestuur van die verskeie distrikte te laat weet dat die distrikte week, uitgestel sal wees. Dit is weens die transformasie teikens wat nie bereik is nie en hoë kostes wat die distrikte van spelers vra om deel te neem. Noordwes krieket sou die administrasie vir die weke, wat as proewe vir die provinsiale span dien oorneem.
Volgens ingeligtes het slegs twee van die distrikte nie aan die transformasie teikens voldoen nie.
Die departement van onderwys het ook ‘n skrywe aan skole gerig dat indien daar steeds wedstryde voortgaan dit nie deur Noordwes krieket goed gekeur is nie. Die departement het dit duidelik gemaak dat dit nie toernooie ondersteun wat nie goed gekeur is nie.
Op die vooraand van die toernooi se afskop het die distrikte se bestuur en Noordwes krieket ooreengekom dat alle distrikte aan die transformasie doelwitte, soos uiteengesit deur Krieket Suid Afrika sal voldoen en dat die toernooi kostes vir spelers nie meer as R2800 mag wees nie.
Volgens Ismail Minty, hoof uitvoerende beampte van Noordwes krieket, is daar al in Junie vanjaar vergaderings gehou veral oor waar kostes gesny kan word.
“Ons wil hê dat alle krieket spelers aan die weke kan deelneem. Daar moet gelykheid wees daaroor. Dit is een van die dinge wat ons al lank met die distrikte se bestuur bespreek het. Van die distrikte het meer as R4000 per kind gevra om aan ‘n drie dag toernooi deel te neem, dit maak nie sin nie,” het minty verduidelik oor Noordwes Krieket se besluit.
Volgens hom is transformasie deel van sport in Suid Afrika.
“Ons kan nie daarvan weg kom nie, dit moet gedoen word,” het hy gesê.
Die toernooi het van 3-5 Oktober plaasgevind.



