Lewenslank na koffiewinkel moord
Twee mans is lewenslank gevangenisstraf opgelê na die moord op sakeman Ben Gumbi.
Sibongiseni Ngubane (33) en Thabani Lethukuthula Gwala (30) is op 9 Oktober lewenslange gevangenisstraf vir die moord van Rustenburgse sakeman Ben Gumbi (50) deur die Noordwes Hooggeregshof in Mogwase opgelê.
Sivenathi Gunya, kommunikasiebeampte van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die skuldbevinding spruit uit ‘n tragiese voorval op 23 Augustus 2023, toe Gumbi en sy vrou by ‘n plaaslike koffiewinkel gestop het.
“Gumbi het binnetoe gegaan om koffie te bestel terwyl sy vrou in die geslote voertuig gebly het. Terwyl hy vir sy bestelling gewag het, het hy buite toe gegaan om ‘n oproep te beantwoord. Oomblikke later het ‘n motor stilgehou, en twee mans het uitgeklim en op Gumbi losgebrand, hom noodlottig gewond voordat hulle van die toneel gevlug het.”
Gunya gaan voort om te sê die verdagtes het later die voertuig agtergelaat en na ‘n ander motor oorgeskakel. Polisie-ondersoeke, gehelp deur beeldmateriaal van die koffiewinkel en vingerafdrukke wat op die verlate voertuig gevind is, het gelei tot die inhegtenisneming van Ngubane en Gwala in onderskeidelik September en Desember 2023.
In die hof het beide beskuldigdes onskuldig gepleit, maar is skuldig bevind op grond van die oorweldigende bewyse wat deur die aanklaer aangebied is.
Beide mans is tot lewenslange gevangenisstraf vir moord en 15 jaar gevangenisstraf elk vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gevonnis. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.



