Local newsNewsNews

AfriForum bevraagteken munisipaliteit se toekenning

AfriForum eis antwoorde oor hoe JB Marks, ondanks ernstige diensleweringsprobleme, as die beste munisipaliteit in Noordwes aangewys is.

AfriForum se Potchefstroom-tak het ’n formele versoek aan die Suid-Afrikaanse Eiendomseienaarsvereniging (SAPOA) gerig om die volledige beoordelingskriteria en prosesse bekend te maak wat gebruik is om die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit as die beste presterende munisipaliteit in Noordwes aan te wys.

Die versoek volg nadat SAPOA op 2 Oktober tydens ’n galageleentheid by Sun City die toekenning aan JB Marks oorhandig het. Volgens AfriForum is die besluit egter hoogs omstrede teen die agtergrond van die ernstige en voortdurende diensleweringsprobleme waarmee inwoners van Potchefstroom, Ventersdorp en omliggende gebiede daagliks worstel.

AfriForum sê dat inwoners reeds lank kla oor probleme soos talle waterlekkasies, rioolbesoedeling en -blokkasies, onwerkende straat- en verkeersligte, vervaagde padmerke en strate vol slaggate. Daarbenewens het die munisipaliteit se Eskom-skuld binne minder as twee jaar van nul tot meer as R500 miljoen toegeneem, terwyl sleutelfigure in die bestuur, insluitend die munisipale bestuurder, ondersoek word vir korrupsie.

In die brief vra AfriForum dat SAPOA die volgende inligting aan die publiek beskikbaar stel:

  • Die beoordelingskriteria en weegfaktore wat gebruik is;

  • Die name en onafhanklikheid van die beoordelingspaneel;

  • Die data of bewysmateriaal wat deur die munisipaliteit verskaf is; en

  • Of diensleweringsprobleme, finansiële wanbestuur en korrupsie-ondersoeke in die beoordeling oorweeg is.

Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder van AfriForum in die Mooirivier, is dit “ondenkbaar dat ’n munisipaliteit wat in so ’n toestand van verval verkeer, bekroon word as die beste presteerder in die provinsie.” Sy sê dat sulke toekennings die publiek se vertroue ondermyn en dat dit noodsaaklik is dat SAPOA die beoordelingsproses openbaar maak.

“AfriForum glo dat deursigtigheid en aanspreeklikheid ononderhandelbaar is wanneer prestasie in plaaslike regering beoordeel word, veral waar erkenning die geloofwaardigheid van gemeenskappe raak wat daagliks die gevolge van swak bestuur dra,” sluit Pretorius af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button