Bortog is geweier vir ‘n man wat daaraan beskulding word dat hy drie mense met ‘n graaf vermoor het, twee ernstig beseer het en eiendom beskadig het.
Die Temba-landdroshof het borgtog geweier aan Romeo Moshe Shibambu (37) van Suurman, wat teregstaan op drie aanklagte van moord, twee aanklagte van poging tot moord en een aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging.
Lumka Mahanjana, streekswoordvoerder van die polisie, sê daar word beweer dat die beskuldigde se suster hom op 28 September by sy woning besoek het.
“Terwyl sy gesels het, het sy ‘n tuingraaf naby opgemerk. Toe sy daaroor navraag doen, het die beskuldigde vir haar gesê dat hy ‘lus was om te baklei’ en dat as hy dit doen, hy ‘die geveg sou wen’. Hy het toe na bewering sy suster weggejaag en haar met die graaf aangerand.”
Mahanjana gaan voort om te sê twee dae later, op 30 September, het die beskuldigde glo met ‘n graaf na ‘n nabygeleë winkel gestap het om R350 van die winkeleienaar te eis. Op pad het hy na bewering kinders by ‘n buurman se huis sien speel. Hy het die driejarige Kelebogile Neo Gift Baloyi met die graaf begin aanrand. Die kind het aan sy beserings beswyk.
“Toe die kind se ma, Rose Baloyi (33), sien wat gebeur en probeer het om hulp van bure te soek, het sy flou geword. Die beskuldigde het na bewering ook die ma met die graaf aan te rand, wat tot haar dood gelei het. Toe Sibusiso Langatshe Baloyi (42), die pa van die kind en man van Rose, probeer ingryp het, het die beskuldigde na bewering teen hom gedraai en hom met die graaf aangerand totdat hy gesterf het.”
Mahanjana verduidelik ‘n taxibestuurder het die aanval gesien en probeer ingryp, maar die beskuldigde het hom na bewering ook met die graaf aangerand, in die taxi geklim en weggery terwyl hy die taxibestuurder van buite die taxi gesleep het totdat hy nie verder kon ry nie.
“Die oomblik wat hy uit die taxi geklim het, het die gemeenskap die beskuldigde aangekeer en die polisie is na die toneel ontbied. Die beseerde taxibestuurder is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling, en die beskuldigde is in hegtenis geneem.”
Die saak is tot 27 November vir verdere ondersoek, uitgestel.



