Koshuislewe in Potchefstroom: ‘n Plek van identiteit en eenheid
Hierdie afgelope week het 1 560 eerstejaars in koshuise ingetrek - elkeen met hul eie agtergronde, sienings en uniekhede.
Een van die groot trekpleisters vir studente om in Potchefstroom te kom studeer, hou verband met die student- en koshuislewe. Vir jare hoor hulle die interessante stories wat hul ouers en familielede vanuit hul eie ervarings deel, of hulle verkry inligting van bemarkers wat skole besoek.
Die NWU se Potchefstroomkampus is bekend vir sy tradisieryke koshuise waar talle eerstejaars hul identiteit as studente ontdek. Buiten 20 koshuise op kampus is daar ook drie sportkoshuise een senior studentkoshuis (Oppirif) sowel as vyf dagkoshuise.

Hierdie afgelope week het 1 560 eerstejaars in kampuskoshuise ingetrek – elkeen met hul eie agtergronde, sienings en uniekhede, asook soms komiese verwagtinge van ouers.
“Onthou, jy is hier om te leer – niks stories van meisies tot jy 30 is nie,” is wat ’n ma glo aan haar seun gesê het toe hy by Veritas Manskoshuis ingetrek het.
Leslie Barends, koshuisvader van Veritas Manskoshuis, sê dat 86 eerstejaars vanjaar ingetrek het van oraloor Suid-Afrika, asook uit Namibië en Botswana.
“Ons begin reeds in November met ’n ondersteuningsbasis vir voorlopige eerstejaars. Ons deel op ’n Veritas WhatsApp-groep ’n spesiale eerstejaarboekie met inligting oor Veritas. Die senior manne maak ook video’s en infografika wat ons met hulle deel om hulle opgewonde te maak oor die vooruitsig om Veritas toe te kom,” verduidelik Barends.

Vincent Eastes, koshuisvader van Vergeet-My-Nie Dameskoshuis (VMN), noem dat daar jaarliks 84 studente ingeneem word.
“Vergeet-My-Nie het ’n spesiale verwelkomingsgeleentheid waar die huisouers, huiskomiteelede, nuwe eerstejaars en hul ouers verwelkom word. Die gang-HK-lid waarop jy geplaas is, neem jou na jou kamer toe. Daar word ook ’n koshuistoer gehou sodat jy die koshuis kan leer ken en weet waar alles is,” sê Eastes.
Volgens Eastes is VMN vir baie dames ’n nuwe tuiste weg van die huis af.
“Daar is ’n gevoel van behoort en samehorigheid. Lewenslange vriendskappe word hier gevorm.”
Hy noem ook dat veiligheid en die belangrikheid van opdaag as kernaspekte by VMN beskou word. Eastes, wat bekend is vir sy vaderhart, deel ’n oulike gebeurtenis om dit te illustreer.
“Ek het eendag vir ’n pa vertel hulle noem my ‘Pa Vincent’ in die koshuis. ‘Sjoe, maar jy het baie dogters,’ het hy gesê, aangesien daar 251 meisies in die koshuis woon.”
Vir Barends is dit uiters belangrik dat alles in plek is sodat eerstejaars by Veritas van die eerste intrapslag af welkom voel.

“Seniors help dra, maak grappies en breek die ys, en die huiskomitee maak seker elkeen weet waar hy moet wees. Die HK, my vrou en ek begin reeds hul name leer voor hulle arriveer – ons glo dit help om vinnig ’n gevoel van ‘huis’ te skep. Ons hou ook ’n verwelkoming saam met die ouers en seuns in die koshuis. Die fokus is om ouers te bedank vir hul rol in die jong manne se lewens,” sê hy.
Christi Cloete, koshuismoeder van Dinki Dameskoshuis, noem dat daar 350 eerstejaars by Dinki is. Hierdie studente vorm ’n sterk en sigbare deel van die NWU-studentegemeenskap en neem aktief aan alle fasette van studentelewe deel.

Cloete sê dat koshuislewe vir ’n dorpskoshuisstudent oor mense gaan – waar lojaliteit en identiteit gevorm word.
“In ’n dorpskoshuis is kultuur nie gebou-gebonde nie, maar gemeenskap-gedrewe. Gedurende die R&O-tydperk word ons waardes, tradisies en verwagtinge gevestig deur interaksie, koshuis-spesifieke programme en gedeelde ervarings.
Studente leer dat, ongeag waar hulle fisies bly, hulle deel is van ’n groter ‘huis’ en ondersteuningstelsel wat hulle insluit by alle fasette van die NWU se studentelewe,” beaam Cloete.
By Veritas gaan dit daaroor om uniekheid te beklemtoon, maar ook om saam te staan by die koshuis se waardes.
“Koshuiskultuur gaan nie oor streng reëls nie, maar oor waardes, respek, verantwoordelikheid en trots om ’n Veritas-man te wees,” voeg Barends by.

Die Registrasie- en Oriënteringstydperk, wat vandag (Saterdag, 7 Februarie) afgehandel is, speel ook ’n sentrale rol in die integrasieproses wat eerstejaars moet deurloop om al die aspekte van die NWU te verstaan.
“Hulle leer hoe die NWU werk – van studentekaarte maak, stelsels wat studente gebruik, ondersteuningsdienste, tot waar om ’n lekker burger te eet.”
Cloete is ook opgewonde oor ’n nuutgeboude klubhuis wat die studente-ervaring verder sal verbeter.
“Dinki sien besonders uit na die inlywing van ’n nuwe, pragtig geboude klubhuis, wat ons einde Februarie as ons nuwe ‘huis’ sal inlyf. Hierdie klubhuis sal dien as ons primêre versamelpunt en simboliese tuiste – ’n plek waar gemeenskap, kultuur en behoort verder versterk sal word.”
Vir Barends is daar iets besonders daarin om die groei van studente te sien wat as volwaardige volwassenes ’n impak in die samelewing kan maak.
“Dit is besonders om te sien hoe ’n stil, onseker eerstejaar binne ’n paar maande verander in iemand met selfvertroue; hoe hulle saamwerk, groei en hul plek vind. As koshuisouers raak ons betrokke by hul suksesse, maar ook hul uitdagings. Dit is meer as net ’n werk – dit gaan oor verhoudings bou, en dit is ’n voorreg om met wonderlike jong mense te werk.”



