Local newsNewsNews

Entstowwe gee boere ‘n wapen teen Bek-en-Klou

Victor Lourens en Frikkie Boshoff, plaaslike beesboere en lede van die Mooirivier Studiegroep, glo dat die verkryging en gepaardgaande sistematiese toediening van die entstof op grootskaalse vlak dié siekte in die kiem sal smoor.

Daar is hoop vir plaaslike boere met die aankondiging van die Minister van Landbou, John Steenhuisen, dat ’n miljoen Bek-en-klouseer-entstowwe in Suid-Afrika gearriveer het.

Plaaslike boere voer al vir maande ’n stryd teen hierdie hoogs aansteeklike staatsbeheerde siekte wat hul kuddes groot skade aandoen. Verliese is op fisiese en finansiële vlak ervaar, wat tot emosionele lyding lei. Sodoende is Bek-en-klouseer ook as ’n nasionale ramp verklaar.

Entstowwe teen Bek-en-klouseer sal groot verligting vir boere bring.
Hierdie beeste het Bek-en-klouseer gehad. Hier is hul afgeneem twee weke nadat hul die siekte oorkom het. Foto: Verskaf.

Victor Lourens en Frikkie Boshoff, plaaslike beesboere en lede van die Mooirivier Studiegroep, glo dat die verkryging en gepaardgaande sistematiese toediening van die entstof op grootskaalse vlak dié siekte in die kiem sal smoor.

“Ons weet wat die oplossing is, en met die entstof wat land, gee dit vir ons ’n geleentheid om self ons beeste in te ent. As die eerste entstof land, sal die boere rustig wees. Dan kan ons teen Bek-en-klou behoorlik baklei,” noem Lourens, ’n plaaslike beesboer van Potch.

Lourens verstaan die impak van Bek-en-klouseer wat hy in 2022 eerstehands ervaar het en was vir 16 maande onder kwarantyn.

“Dit is ’n sielkundige oorlog, veral met die finansiële impak. Ons was die plaas waar die eerste Bek-en-klou-geval in 2022 was. Dit was bloedsweet. Ons het destyds al vir die enting baklei. Die bedryf het gedink dat dit onder kwarantyn gesmoor sal bly. Om die siekte behoorlik te keer, moet gesonde beeste geënt word. Dit moet proaktief elke ses maande gebeur,” vertel Lourens.

Steenhuisen het in ’n toespraak by die Staatsrede hierdie maand genoem dat daar ’n paar ligpunte in die tonnel vir boere kom.

Hy het genoem dat die Landbounavorsingsraad vir die eerste keer in meer as 20 jaar plaaslik entstowwe vervaardig het, met planne om produksie teen 2027 aansienlik op te skaal.

“Meer as vyf miljoen dosisse word teen die einde van Maart verwag. Meer as twee miljoen inentings is reeds landswyd toegedien. Bewegingsbeheer word verskerp, veeartsenykundige kapasiteit word uitgebrei, en privaat veeartse sal ingevolge die Wet op Dieresiektes toegelaat word om entstowwe toe te dien. Die doelwit is om teen Desember 80% van die nasionale kudde in te ent,” – John Steenhuisen

Lourens noem dat die meeste boere in Potch nou al bedaar het rondom hul onsekerheid oor die siekte, juis omdat hulle daardeur is, verliese gely het, maar ook hul beeste weer gesond sien word het.

“Die meeste besmetting met Bek-en-klou gebeur wanneer siek diere ingeënt word. Dit help nie om ’n siek dier in te ent nie. Bek-en-klou het ook al so versprei dat dit moeilik geraak het om te kwarantyn. Die beste opsie vóór die enting is om jou beeste te behandel sodat hulle gesond word.”

Boshoff, ’n beesboer naby Ventersdorp, noem dat Bek-en-klou hom en ander boere diep geraak het.

“Om jou beeste te sien swaarkry, is rof. Die tydperk van twee tot drie weke wat ’n kudde deurloop, is hel. Jy sien jou diere elke dag swaarkry. Kallers wat net omval, is hartverskeurend om te sien. Emosioneel is dit erg.”

“Hoe vinniger ons die entstof het, hoe beter. Ons wil elke ses maande ent. Die boere se hande moet versterk word. Die wanpersepsie is dat boere totale beheer het. Ons wil die volledige hoeveelheid entstowwe hê,” noem Lourens.

Lourens verduidelik verder dat Bek-en-klou nie beheer sal word indien gebiede nie totaal en al skoon ingeënt word nie.

“Bek en Klou word só gevrees omdat dit jou as boer elke drie maande kan tref. Dit is hoekom dit belangrik is om gebiede skoon te ent. Ek is positief dat die entstowwe ’n groot verskil sal maak. Dinge is besig om te draai.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button