Die groot rede vir KHS se oorwinning in die 2026 Noordwes Interskole is ‘n kombinasie van puik afrigting, beplanning en ‘n atletiekgroep wat in talle items uitblink.
KHS was uiters konskwent en het uiteindelik bo geëindig met 1911 punte, gevolg deur Hoërskool Rustenburg op 1837 punte, terwyl Potchefstroom Gimnasium derde was met 1638 punte.

KHS se dogters maak naam, RHS se seuns wys hul krag
KHS se dogtersspan was uitstaande en het ’n welverdiende eerste plek behaal met 1 005 punte. In dieselfde asem het Rustenburg se seunsspan gewys hoekom hulle as die beste beskou word nadat hul hulle afdeling met ‘n total van 947 punte wen.

Gimmies se dogters, wat in 2025 as kampioene gekroon is, moes vanjaar met ’n derde plek tevrede wees. Daar was wel geen tekort aan uitblinkers nie. Stephané Hook het goud in die o19-spiesgooi verower met ’n nuwe rekord van 46.32 m, asook goud in gewigstoot. Alrike Hattigh het die o14 800 m en 1 500 m gewen, terwyl Lezanke Pienaar met goud in die o16 100 m en 200 m gewys hoekom spoed deel van haar DNS is. Gimmies se talentvolle spoedvraat, Cody McCarthy maak naam in die seuns o14 100m, 200m en 400m.


Prins(es) van die baan
Een van KHS se groot troefkaarte was die Junior Victrix Ludorum, Shinell Prins. Sy was blitsvinnig op o15-vlak en wen goud in die 300 m-hekkies en 100 m, met silwer in die 90 m-hekkies. Haar tweestryd met Gimmies se Hayley Lues, wat goud in die 90 m-hekkies behaal het, was een van die hoogtepunte van die dag.
Die toekenning vir beste baanatleet het ook aan KHS gegaan, met hekkieskampioen Lili Damoyi wat dié eer inpalm. Damoyi behaal ‘n nuwe rekord in die dogters o16 400m hekkies in ‘n tyd van 1:02.06. In die 100m hekkies behaal sy eerste plek in 14.93 sekondes.
KHS se spiesgooiers was nóg ’n groot suksesverhaal. Onder leiding van Erich Wiese het hulle rekord ná rekord laat spat. Lehanke Beets (o15 dogters) verbeter die rekord na 47.09 m, Alto Wiggett (o14 seuns) gooi ’n nuwe merk van 57.30 m, en Marques Olivier (o19 seuns) behaal ’n indrukwekkende 68.69 m.

Pullen trek die aandag
Wesvalia se Divan Pullen is as Junior Victor Ludorum aangewys nadat hy drie goue medaljes op die baan verower het. Hy breek rekords in die seuns o15 100 m, 200 m en 400 m met sy blitsige vertonings.

Rustenburg se Nathan van Staden het ook sy naam in die rekordboeke geskryf. In die seuns o16-gewigstoot behaal hy 17.32 m en in diskusgooi 58.50 m wat albei nuwe rekords is.
Top Atlete:
Junior Victor Lodorum: Divan Pullen (Hoërskool Wesvalia)
Senior Victor Lodorum: Nathan van Staden (Hoërskool Rustenburg)
Junior Victrix Lodorum: Shinell Prins (Klerksdorp Hoërskool)
Senior Victrix Lodorum: Denike Jordaan (Hoërskool Wesvalia)
Beste Baanatleet: Lili Damoyi (KHS) – 929 (400mH)
Beste Veldatleet: Nathan van Staden (RHS) – 1000 (Diskus)
Puntetelling:
1: KHS – 1911
2: RHS – 1837
3: Potchefstroom Gimnasium – 1638
4: Wesvalia – 1551
5: Hoërskool Lichtenburg – 1251
6: Bergsig Akademie – 1119
7: Volkskool Potchefstroom – 1084
8: Potchefstroom Girls High en Potchefstroom Boys High – 459
Kry die volledige uitslae van die A-afdeling hier





