Local newsNewsNews

Chubby Chick moorde: Verdagte moontlik nie geskik vir verhoor

Die verdediging was eerste aan die woord en het die hof meegedeel dat Joubert se geestesvermoëns intussen geëvalueer is.

Die 73-jarige Robert Joubert het vandag, 25 Februarie, vir die tweede keer in die Potchefstroom-landdroshof verskyn in verband met die dubbele moord op die Fourie-broers, maar dié keer het die fokus minder op die feite van die saak geval en meer op sy geestestoestand.

Joubert het merkbaar beter voorgekom as tydens sy vorige hofverskyning verlede maand. Waar hy destyds broos en bleek gelyk het nadat hy kort tevore uit Potchefstroom Hospitaal ontslaan is, het hy vandag meer standvastig voorgekom. Sy regterarm is egter in penne ná ’n ernstige elmboogbesering tydens die insident.

Die verdediging was eerste aan die woord en het die hof meegedeel dat Joubert se geestesvermoëns intussen geëvalueer is. Die vedediging het aangedui dat hulle ’n aansoek wil bring in terme van artikel 77 of 78 van die Strafproseswet. Volgens sy regsverteenwoordiger is dit noodsaaklik om ’n behoorlike basis te lê voordat die saak verder kan vorder. Vir hierdie doel is ‘n sielkundige aangestel om die beskuldigde te evalueer en aan die hof redes te gee waarom sy van oordeel is die beskuldigde verwys moet word vir waarneming.

’n Kliniese sielkundige van Johannesburg is aangestel om Joubert te evalueer. Sy het hom op 20 Februarie gesien en is tans besig om ’n omvattende verslag saam te stel. Daar word egter nog gewag op verslae van ander toetse voordat die finale bevindings aan die hof voorgelê kan word.

Die saak is laasmaand na die Streekhof oorgeplaas.

Joubert staan tereg op aanklagte van moord ná die noodlottige skietery op 10 November 2025 by die Fourie-broers se besigheid, Chubby Chick, in Potchindustria.

Jonathan Fourie is tydens die voorval op die toneel doodgeskiet. Sy broer, Deon Fourie, is ernstig gewond en na ’n hospitaal in Gauteng oorgeplaas vir gespesialiseerde behandeling, waar hy later aan sy beserings beswyk het. Die voorval het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur, met ’n beweerde motief wat glo verband hou met ’n eiendomstransaksie.

Die saak is tot Maandag, 23 Maart 2026, uitgestel terwyl die verslag afgehandel word en verdere administratiewe prosesse plaasvind. Joubert bly in aanhouding.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button