Local newsNewsNews

Witrand Hospitaal steeds onder wolk van onsekerheid

Families van pasiënte wat by Witrand Hospitaal dood is, veg steeds vir antwoorde.

Byna ’n jaar ná die dood van ’n pasiënt by Witrand is daar steeds meer vrae as antwoorde en families sê hul bekommernis groei by die dag.

Die dood van Quinton du Plessis in 2025 word steeds deur die provinsiale gesondheidsowerhede ondersoek. Hoewel daar bevestig is dat ’n verslag reeds ingedien is, is dit nog nie openbaar gemaak nie. Intussen hou nuwe en ou bewerings van ernstige voorvalle by die instelling nie op nie en families sê hulle voel in die duister gelaat.

“Ons weet steeds nie presies wat gebeur het nie”

Noeleen de Bruin se outistiese seun, Riaan Jansen van Vuuren, was van 2022 tot sy dood in Maart 2025 ’n inwoner van Witrand. Sy sê sy worstel steeds met onbeantwoorde vrae oor haar seun se laaste dae.

Volgens haar was Riaan se gesig geswel en sy oë rooi toe hy in Februarie laas huis toe is. “Die verduideliking wat ons gekry het, het nie sin gemaak nie,” sê sy.

Op die dag van sy dood is sy glo nie betyds ingelig dat hy siek geword het nie. Teen die tyd dat sy gehoor het wat gebeur het, was hy reeds in ’n kritieke toestand. Dokters kon sy hart weer aan die gang kry, maar hy is later die aand oorlede. Volgens haar is daar braaksel in sy longe gevind.

“Ek wonder steeds of daar vinniger opgetree kon word,” sê ’n emosionele De Bruin. Sy vermoed ook dat sterk medikasie moontlik ’n rol kon speel.

Riaan Jansen van Vuuren is in Maart 2025 oorlede

In ’n ander geval het Elizabeth Sedumeni kneusplekke aan haar suster, Motshegwa Motsamai, se liggaam opgemerk. Sy het ’n klag by die hospitaal ingedien, maar is later meegedeel dat ’n interne ondersoek geen nalatigheid gevind het nie. Personeel is glo vir verdere opleiding gestuur.

Motshegwa is in Mei 2025 oorlede, vermoedelik aan ’n hartaanval.

Die kneusplek op Motshegwa Motsamai se lyf. Sy is in Mei laas jaar oorlede.

’n Vrou wat tans oorsee woon, beweer haar broer, ook ’n inwoner van die instelling, is ernstig aangerand. Volgens haar is sy tande uitgeslaan en sy kakebeen gebreek.

“Ons is meegedeel hy het dit aan homself gedoen,” sê sy. Die familie aanvaar nie dié verduideliking nie.

Die polisie ondersoek ook bewerings van verkragting in verband met Quinton du Plessis se dood. Daar word vermoed dat hy voor sy afsterwe seksueel aangerand is.

Nog ’n ma beweer haar 26-jarige seun, wat steeds by Witrand is, drie jaar gelede deur ’n personeellid verkrag is. Sy sê sy wag steeds op ’n saaknommer en beweer die betrokke personeellid werk nog daar.

“Ek vrees elke dag vir my kind se lewe,” sê sy.

Volgens polisiewoordvoerder Kolonel Adele Myburgh is ses sake tussen 2018 en 2024 by die polisie aangemeld wat met die instelling verband hou. Dit sluit onder meer sake van aanranding, verkragting, seksuele aanranding en diefstal in. In die aangemelde sake is geen personeellid as verdagte aangedui nie.

’n Voormalige werknemer wat tussen 2018 en 2023 by die hospitaal gewerk het, beskryf ’n omgewing waar toegewyde personeel probeer het om ’n verskil te maak, maar waar ernstige personeeltekorte en swak toesig volgens haar ’n werklikheid was.

Sy beweer pasiënte is soms sonder voldoende toesig gelaat, en dat personeel wat probleme uitgewys het, geviktimiseer is. “Daar is mense met goeie harte, maar baie het moed opgegee,” sê sy.

Werknemers het reeds in vorige jare hul kommer oor werksomstandighede uitgespreek.

Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die Noordwes Departement van Gesondheid, sê die ondersoek na Quinton du Plessis se dood sluit ook breër sistemiese kwessies in.

Volgens hom is families betrek, ingelig en het hulle berading ontvang. Hy sê pasiënte word deur verpleegpersoneel gemonitor en dat alle skofte volgens die departement bygewoon is. Indien die polisie voortgaan met ondersoeke, sal die departement saamwerk.

Tog bly die verslag oor Quinton se dood ontoeganklik vir die publiek en families sê sonder deursigtigheid is daar geen rus nie.

Terwyl ondersoeke voortsleep en verduidelikings skraps bly, leef verskeie gesinne met ’n knaende vraag, wat gebeur werklik agter die mure van Witrand en wie neem verantwoordelikheid?

Ten tyde van die publikasie is geen terugvoer van Witrand hospitaal ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button