Mooirivier onderwyser en sportafrigter tree af na 37 jaar se getroue diens
Vir die getroue Tokkies onderwyser, mnr. Jackie Golden, was onderwys 'n groot liefdestaak - een wat hy vir 37 jaar by Laerskool Moorivier omarm het.
Vir 37 jaar het mnr. Jackie Golden se liefde vir die leerders by Laerskool Mooirivier vir talle goue oomblikke binne en buite die klaskamer gesorg.
Soms was dit tydens ’n wiskundeles of kunsaktiwiteit waar hy leerders se denke gestimuleer het. Ander kere was dit tydens lewensoriëntering buite die klaskamer waar hy leerders aktief kon hou, lewenslesse kon leer en hulle nader aan die Here kon bring.
Sukses op die sportveld het ook vir Golden soos ’n magneet gevolg. As sportafrigter het sy passie vir karaktervorming en doelgerigtheid in die geheel vir Mooirivier talle titels gebring, beide op plaaslike en nasionale vlak.
Nie te sleg vir ’n onderwyser wat op sy heel eerste dag as onderwyser by Laerskool J.M. Louw in Boksburg sy das met ’n papier-guillotine afgesny het nie.
“Ek was besig om papiere te sny waarop ek die kinders se name skryf sodat ek hulle name kan leer ken. Die klas was nogal woelig, so ek moes my oë ook op hulle hou. Ek onthou net hoe die kinders begin lag het. Toe wys een meisie vir my dat ek my das skeef met die guillotine afgesny het. Ek kon toe darem ’n ander das by ’n kollega gaan haal,” glimlag Golden.
Golden het amptelik 40 jaar in die onderwys voltooi en sy laaste dag by die skool in Januarie saam met mnr. Willie Lubbe voltooi, wat ook afgetree het.

As onderwyser het Golden allerlei vakke aangebied wat lewensoriëntering, kuns en kultuur, Bybel, Afrikaans, Engels en sy gunstelingvak, wiskunde, ingesluit het.
“As onderwyser is dit belangrik om die kind as ’n individu te sien. Dit is ’n gawe om dit te kan doen en ook om te weet hoe om na ’n kind sowel as die ouers te luister.”
Sy passie vir die onderwys kom van sy oupa, Awie Golden, af.
“Ek het in graad 10 geweet ek wil ’n onderwyser word. My oupa was ’n fantastiese onderwyser. Hoe hy met ’n klas omgegaan het, het my geïnspireer,” vertel Golden, wat sy hoërskoolloopbaan by HTS Potchefstroom in 1980 voltooi het.
Hy was by M.L. Fick op laerskool, waar hy ’n jaar te jonk al op vyfjarige ouderdom in graad een was. By Mooirivier het hy onder drie hoofde gewerk, naamlik Faan de Beer, Ruben Jacobs en die huidige hoof, mnr. Jakkie van Vuuren.

“Mooirivier het goeie geriewe en is ’n puik omgewing om skool te gee. Dit was vir my lekker om myself daar toe te wy. In vorige jare kon ’n mens fokus op skoolgee, maar deesdae is daar baie papierwerk en administrasie in die onderwys. Dit is ’n uitdaging.”
Om vindingryke lesse te beplan tot die beterskap van sy leerders en opsommingsvaardighede te verskerp, was voorbeelde van hoe hy seker gemaak het om die beste uit sy leerders te kry. Menige leerders sal getuig dat hulle beter uitstap as wat hulle ingestap het.
Op sportgebied het hy van Potch se top belowende sporttalente afgerig – een van die grootste voorbeelde is die talentvolle Proteas-kolwer, Lhuan-dré Pretorius. Lhuan-dré het sy sporttalent onder Golden verder vir sewe jaar ontwikkel en in krieket en rugby uitgeblink.

“Lhuan-dré was toe al ’n groot talent. So ook Jacques Schutte, wat saam met hom gekolf het in daardie spanne,” noem Golden, wat glo dat sukses uit 60% dissipline, 20% afrigting en 20% talent bestaan.
Golden het ook talle rugby- en krieketspanne in die Super-12-reeks teen die top laerskole van Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga afgerig. Hierdie Potchefstromer hou homself nog steeds besig met sy hoogspring akademie waar hy leerders vanuit verskillende skole afrig.

So ook sy krieketkliniek waar hy kinders vanaf Graad R tot Graad 3 vir meer as drie dekades afrig.
“Dit is ’n voorreg om kinders geestelik te raak en hulle lewenslesse te kan leer. Van die oudleerders wat ek raakloop, sal noem dat ek ’n verskil in hul lewens gemaak het. My barometer lê in hoe ek Jesus se liefde vir hulle gewys het.”



