Vermiste hondjie ná 22 ure opgespoor
Die eienaar van 'n vermiste hondjie was vreeslik verlig en dankbaar toe sy haar troeteldier na 'n 22 uur-soektog gevind het.
Wat as ’n benoude soektog begin het, het uiteindelik in groot verligting geëindig toe ’n geliefde hondjie ná bykans ’n volle dag se soek weer veilig gevind is.
Bella Bokkie, ’n klein Schnauzer wat vroeër die dag, op Vrydag 13 Maart, in die omgewing van OR Tambo-straat naby die Sasol-garage (Snazzies) en Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom vermis geraak het, is later alleen op ’n sypaadjie in Phillipstraat gevind.
Volgens haar eienaar, Janene de Beer, was die ure lange soektog emosioneel uitputtend nadat Bella Bokkie spoorloos verdwyn het.
“Ek en my ma het vir omtrent 22 uur lank deur die strate van Miederpark geloop en soos mal goed na haar geroep,” vertel de Beer.
Die verligting was groot toe hulle haar uiteindelik alleen op die sypaadjie kry.
De Beer sê die ondersteuning van die gemeenskap het ’n groot rol gespeel tydens die soektog.
“Baie dankie vir almal se gebede, die ‘shares’ op sosiale media en vir almal wat saam met ons gesoek het. Mag die Here julle seën en julle diere bewaar,” het sy gesê.
Bella Bokkie is ongedeerd en weer veilig tuis by haar familie.




