SportSport

Luiperds val vas teen Cheetahs

Na 'n moeilike eerste helfte het die Luiperds meer veggees in die tweede helfte gewys.

Die Luiperds het gisteraand (Vrydag, 13 Maart) op Olënpark hul tweede agtereenvolgende nederlaag in die SA Beker beleef toe hulle met 64-7 teen die Cheetahs vasgeval het.

Die Cheetahs het van die staanspoor af die wedstryd beheer met goeie taktiese skoppe wat die Luiperds vir die meerderheid van die eerste helfte in hul halfgebied gehou het. Die Luiperds het ook ‘n hele paar foute gemaak wat sake verder bemoeilik het.

Die Cheetahs het nie teruggestaan nie, met Jandré Nel en George Lourens wat binne die eerste 15 minute gaan druk het. Lourens het ‘n puik wedstryd op losskakel gehad en het met goeie taktiese skoppe die Luiperds in hul gebied gehou. Cohen Jasper en Clayton Blommetjies was ook op hul stukke en het albei voor rustyd gaan druk om die telling op 38-0 te bring. Die Cheetahs se haker, Marko Janse van Rensburg, het ook twee keer gaan druk.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die Cheetahs het na rustyd voortgegaan om die telbord aan die rol te hou, met Victor Sekekete wat sy naam onder die driedrukkers plaas. Een van die Luiperds se groot struikelblokke was hul lynstane en balbesit, wat hulle baie keer onder druk weggeskop het. Verdere drieë van Tielman Nieuwoudt, Janse van Rensburg en ‘n strafdrie het die telling na 64-0 geneem.

Die Luiperds het wel veggees in die tweede helfte gewys en ondanks skeidsregtersbeslissings wat nie hul kant toe gegaan het nie, kon hulle daarin slaag om op die telbord te kom. Na ‘n goeie paar fases het die plaasvervanger-skrumskakel, Hlumelo Ndudula, oorgeduik, met die Olënpark-skare wat die oomblik luidkeels toegejuig het. Jandré Burger het die doelskop oorgesit om ‘n tikkie blydskap vir die Luiperds-ondersteuners te bied.

Volgens die Luiperds-afrigter, Riaan van Straten, het die Cheetahs van sy span se foute af gespeel.

“Ons het halftyd gesê dat ons net moet rustig raak. Ons het dit te laat gelos om in te klim. Ons het beter geveg in die tweede helfte,” het hy gesê.

‘n Belowende aspek vir Van Straten is dat Olënpark ‘n redelike hoeveelheid toeskouers gehad het, met oud en jonk wat kom ondersteun het.

“Dit is massief om Olënpark so te sien. Ons is dankbaar vir die ondersteuning en ons wil voortbou op hoe ons speel sodat die mense aanhou om te kom,” het hy genoem.

Die Luiperds speel komende naweek, Saterdag 21 Maart, teen die Griffons in Welkom. Die volgende tuiswedstryd op Olënpark is teen die Grens Bulhonde op Saterdag, 28 Maart.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button