SportSport

Oud-Gimmie behaal briljante derde plek by Kaapstad-fietstoer

Wat die prestasie nog beter maak is dat Ryno Schutte as o23 deelnemer teen die land se beste padfietsryers kon meeding en n derde algehele plek behaal

Die Potchefstroomse fietsryer en oud-Gimmie, Ryno Schutte, het op Sondag, 8 Maart ‘n merkwaardige prestasie behaal toe hy ‘n algehele derde plek by die Kaapstad-fietstoer (voorheen Argus) behaal het. Schutte (21) het die 48ste Kaapse fietstoer se uitdagende 109km-roete in 2:33:07 voltooi om op die podium te staan.

Wat die prestasie nog beter maak is dat hy as o23 deelnemer teen die land se beste padfietsryers kon meeding. Ryan Gibbons het die eerste plek in 2:33:06 behaal, met Jaedon Terlouw ‘n kortkop agter hom in die tweede plek. Schutte noem dat hy gedink het dat hy ‘n kans het om ‘n podium te behaal toe hulle in die laaste 15km van die groep af wegbreek.

“Ek het dit eers werklik geglo toe ek oor die lyn is. Ek hou daarvan as die kompetisie sterk is, dit maak dat die resultaat net soveel meer beteken,” vertel hy.

Schutte, wat bly en oefen in Potchefstroom, noem dat sy voorbereiding belangrik was in terme van genoeg slaap inkry en gesond eet om in optimale kondisie te bly. Een van die aspekte wat oor die jare baie uitdagend vir deelnemers is, is die sterk winde. “Die wind was meeste van die tyd van voor gewees. So dit veroorsaak dat die groep baie groot bly,” vertel Schutte, wat die laaste 15km van die wedren die meeste geniet het.

Schutte het die afgelope paar maande groot suksesse behaal met ‘n dubbel SA-kampioentitel by die 2025 SA Criteriumkampioenskappe by Steyn City in November. Hy het ook Suid-Afrika in Kenia verteenwoordig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button