Vrou deel oor angswekkende pitbull-aanval
Die twee bene in haar linkerarm is op drie verskillende plekke gebreek, groot dele van die vleis van haar arm en al die ligamente in haar arm is afgeskeur.
Dit is net genade dat daar om 22:00 op Saterdag, 28 Maart mense in die omgewing was, wat vir Sharon Durand van ‘n pitbull-aanval gered het. As dit ‘n paar minute later kon dinge baie erger gewees het.
Wat ‘n kort staproete terug huis toe van haar ouers moes wees het in ‘n nagmerrie vir haar ontaard toe twee pitbulls haar op die hoek van Kock- en Smitstraat in Potchefstroom Sentraal aangeval het.
Ek het geskree vir hulp. Bure van oorkant die pad en op die straathoek het ook uitgekom om te help.
“Die honde het op my afgestorm en een het my omgespring. Een het my aan die arm beetgekry en die ander het my op my boud gebyt en toe op my kuit. Daarna het altwee honde my aan dieselfde arm beetgekry,” het sy gesê.
’n Wit BMW met ’n man en twee jong vroue het ook op die toneel stilgehou. Die man het uiteindelik daarin geslaag om die honde van haar af te kry, waarna die groep haar in die voertuig gehelp en na die hospitaal geneem het.
Durand stap al vir die afgelope vyf jaar saans saam met haar 11-jarige dogter. Hierdie keer was haar dogter gelukkig nie by nie.
Durand het enstige byt- en skeurbeserings aan haar arm, boud, vrouedele en kuit opgedoen.
Sy het op 1 April ’n operasie aan haar arm ondergaan.
Volgens haar is daar nog geen sekerheid oor hoe lank haar herstel gaan duur of wat die langtermyngevolge van die aanval sal wees nie. Sy sal na verwagting nog operasies moet ondergaan.
Lees die oorspronklike artikel hier:



