Solidariteit vereer maatskaplike werker met eretoekenning
Hierdie jaar is daar vir die eerste keer 'n eretoekenning aan 'n maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand oorhandig.
“Ek is deur my Skepper geroep om hierdie werk te doen – om hoop te bring in donker tye en God se lig te wees.”
Só sê Marna Swanepoel, wenner van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se eerste eretoekenning vir maatskaplike werkers.
Marna is ‘n boorling van Klerksdorp en het haar haar graad by NWU in Potchefstroom voltooi. Daarna het sy by SAVF in Klerskdorp gewerk, toe by NG Welsyn en daarna het haar pad na Helpende hand toe gelei.
Die Solidariteit Maatskaplikewerknemersnetwerk het op 24 Maart vir Swanepoel met ‘n spesiale eretoekenning verras as deel van die #Hoopdraer-inisiatief – ‘n erkenning vir haar jare lange toewyding aan mense in nood.
Hierdie jaar is daar vir die eerste keer ‘n eretoekenning aan ‘n maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand oorhandig. Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, was hierdie stap lankal nodig.
“Te lank is hierdie werkers stilweg misgekyk, ten spyte van die ongelooflike werk wat hulle daagliks in gemeenskappe doen. Dit móés verander,” sê Smit.
Wat hierdie erkenning nog meer besonders maak, is dat dit heeltemal op meriete gebaseer is. Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk se adviesraad stem vir ? wenner sonder om te weet waar die genomineerdes werksaam is.
‘n Hart vir mense en hul stories
Met ongeveer 30 jaar se ervaring in maatskaplike werk is Swanepoel se passie vir mense duidelik.
“Ek het ‘n hart vir mense en hul stories – vir seer wat nie altyd raakgesien word nie, en om ‘n klein vonkie van hoop te bring wanneer mense hul menswaardigheid verloor. My passie is om langs mense te stap – nie om vir hulle te besluit nie – maar om hulle te help om hul menswaardigheid te behou, met respek behandel te word en weer in hulself en hul toekoms te glo.”
Vir Swanepoel lê die kern van haar werk in die idee van hoop.
“Die woordjie hoop is klein, maar kragtig: dit gaan daaroor om ‘n werklike, tasbare verskil te maak, dikwels op ‘n stil manier. Dit beteken om nie net op die probleem te fokus nie, maar die potensiaal in elke individu, gesin en gemeenskap raak te sien. Elke gesprek, elke hand wat ek uitreik, elke glimlag – dit maak ‘n verskil. Soms stil, soms onmisbaar, maar altyd diep menslik.”
Nie net ‘n beroep nie, maar ‘n roeping
Een van die nominasies wat vir Swanepoel ingedien is, beskryf haar werk as ‘n voorbeeld van volgehoue empatie en toewyding: “Marna getuig van ‘n buitengewone passie vir haar werk, selfs te midde van uitdagende omstandighede waar hulpbronne skaars en nood groot is. Haar roepingsgedrewe ingesteldheid is sigbaar in haar volgehoue toewyding om hoop te bring waar moed min is. Sy werk met diep empatie, hanteer elke persoon met waardigheid en respek, en bly positief, kreatief en vasbeslote om ‘n verskil te maak.”
‘n Ander motivering beklemtoon haar menslikheid: “Wat Marna laat uitstaan as ‘n #Hoopdraer, is haar volgehoue vriendelikheid en opregte omgee. Sy luister sonder oordeel, ondersteun met geduld en deernis, en bou vertroue deur haar menswees. Sy bring nie net hulp nie – sy bring hoop.”
Vir Swanepoel is maatskaplike werk dus nie bloot ‘n beroep nie, maar ‘n lewensroeping om hoop te bring waar dit die nodigste is.
“Die begeerte om om te gee en lief te hê is in my hart geplant deur my ouma – sy was die ‘Moeder Teresa’ van ons kerk. Later het ek besef dit is ‘n roeping,” sê sy.
Erkenning vir die stille werk
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk beskou hierdie toekenning nie net as ‘n viering van een persoon nie, maar ook as ‘n erkenning van die talle maatskaplike werkers wat daagliks stilweg ‘n verskil maak.
“Net omdat hierdie toekenning jaarliks oorhandig word, beteken dit geensins dat ons nie elke maatskaplike werker se harde werk raaksien en waardeer nie,” sê Smit. “Inteendeel, ons sien julle; ons waardeer julle; en ons erken die stille, onmisbare verskil wat julle elke dag maak.”



