Local newsNewsNews

Dosent behaal Marius Jooste-prys vir meestersstudie oor Nataniël

Hardus Ludick, 'n NWU dosent, se navorsing en in-diepte-analise van Nataniël se werke op verskeie terreine het vir hom die gesogte Marius Jooste-prys besorg.

Nataniël is Suid-Afrikaanse volksbesit.

Sy vertonings, musiek, boeke, stories en televisieprogramme is almal eg aan ’n lewensgroot persoonlikheid wat sy egtheid weerspieël.

Maar wie is Nataniël regtig? Hoe het hy volksbesit geword?

Hardus Ludick, ’n NWU-dosent in Akademiese Geletterdheid, het met sy meestersgraadstudie in Afrikaans dit probeer beantwoord en met lof geslaag.

Sy navorsing en in-diepte-analise van Nataniël se werke op verskeie terreine het vir hom die gesogte Marius Jooste-prys besorg.

Hierdie prys word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken vir die beste meestersverhandeling in die Departement Afrikaans aan ’n student wat ’n graad aan ’n bepaalde universiteit voltooi het.

Hardus Ludick het die gesogte Marius Jooste-prys behaal vir die beste meestersstudie in die Departement Afrikaans. Foto: Verskaf

Die titel van Hardus se studie is: “Nataniël en sy stories: ’n Verkennende postuurstudie van Nataniël se verhaalkuns.”

Hardus noem dat hy nog altyd ’n verwantskap en ’n aantrekking tot Nataniël se oeuvre gehad het.

“Nataniël was vir my van die begin af as tiener skreeusnaaks wanneer hy sy verhale vertel. Ek sou sy DVD’s kyk en ook boeke van hom by die dorpsbiblioteek in Bothaville uitneem en lees. Ek het later sy optredes bygewoon en hom ook al ontmoet, wat ’n baie aangename ervaring was,” vertel hy blinkoog.

“Ek is iemand wat sukkel om op iets te fokus wat nie my belangstelling prikkel nie. Ek en my studieleiers het ’n vertoning van Nataniël gaan kyk, en ons het toe tot die besef gekom dat daar nie regtig ’n omvattende studie oor sy verhaalkuns aangepak is nie. Dit is waar die sade vir die M-studie geplant is. Daar was ongelooflik baie materiaal om deur te werk. Dit was regtig opwindend, omdat Nataniël ook in daardie tyd aanhou publiseer het, so ek moes heeltyd probeer bybly.”

Uit Hardus se studie kan ’n mens ’n paar aspekte aflei. Hy kon Nataniël in drie kategorieë groepeer, naamlik die Grapjas, die Esteet en die organiese intellektueel.

“Nataniël het nie ’n probleem om homself laf te maak nie. Die nar is nie net daar om sy gehoor te vermaak nie, maar sy rol is ook om ’n les te deel wat beide snaaks en waar is. Hy tree ook as ’n leermeester op met die gelykenisse wat hy uitbeeld. ’n Mens kan dit veral sien in die stories waar hy sy familie betrek, soos sy ouma wat hom as kind lesse geleer het na aanleiding van allerlei gebeure.”

Daar is ’n les in Nataniël se verhale, asook in die verskillende karakters wat beskryf word. Dit gee die leser die indruk dat daar ’n vermenging van feit en fiksie is, maar daar bly steeds ’n vorm van vereenselwiging. Hardus noem ook dat daar ’n duidelike progressie in Nataniël se loopbaan sigbaar is, waar hy van meer kontroversiële en politieke temas in die negentigerjare na openbare volksbesit in die hedendaagse tyd beweeg het.

“’n Mens hoor Nataniël se stem in sy skryfwerk. Hy probeer niemand naboots nie – hy is homself. Hy sien die onwaarskynlike dinge in die lewe raak en het ’n uitstekende talent om bewus te wees van sy omgewing. Hy is soms baie teer en sag in sy beskrywings, maar spreek ook die menslikheid van die lewe aan.”

Hardus meen dat Nataniël homself as ’n buitestaander sien. Juis die afstand wat hy handhaaf, gee hom perspektief. Hy kan sodoende kommentaar lewer en lesse oordra sonder sy objektiwiteit prys te gee.

“Dit is vir my ’n groot eer om te weet dat ek die Marius Jooste-prys ontvang het. Om ’n meestersgraad van 2020 tot 2023 aan te pak, was regtig ’n gemeenskapsprojek. Ek kon dit nie sonder my studieleiers, dr Janien Linde en prof Phil van Schalkwyk, doen nie.”

In my verhandeling bedank ek ook my familie, vriende, Die Draak en Varsity Café op die Bult,” noem hy. In die toekoms wil Hardus graag sy meestersstudie in wetenskaplike artikels omskep en publiseer, sowel as ’n doktorale studie aanpak.

Vir eers hou hy hom besig met die dosering van eerstejaars in Akademiese Geletterdheid en navorsing. Hy is ook betrokke as lid van Villagers Manskoshuis en geniet die studentekultuur op kampus.

“Dit is steeds ongelooflik om te dink dat ek ’n pos by die NWU het en betaal word om navorsing te doen. As dit nie vir my M-studie was nie, sou ek nie nou ’n werk by die NWU gehad het nie. So ek is baie dankbaar vir Nataniël.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button