Twee onderskeidings ten spyte van kanker
Die littekens wat sy dra, vertel ’n storie, nie van pyn nie, maar van oorwinning. Van iemand wat deur vuur gegaan het en sterker, wyser en mooier anderkant uitgekom het.
In ’n wêreld waar perfeksie dikwels as die norm voorgehou word, staan Lienke Strydom as ’n lewende bewys dat ware skoonheid in moed, karakter en deursettingsvermoë lê.
Lienke, ’n Graad 12-leerder aan Hoër Volkskool Potchefstroom, is ’n sagte, lewenslustige jong meisie met ’n liefde vir stap, haar katte en die eenvoudige vreugdes van die lewe. Sy is in Mediclinic Potch gebore, het haar skoolloopbaan by Laerskool ML Fick begin, en haar plek by Volkies volgestaan. Sy is ook ’n geliefde suster, met ’n ouer en jonger boetie en iemand wat van kleins af al haar kreatiewe kant deur modelwerk uitgeleef het.
Maar dit is nie net haar talente wat haar besonders maak nie, dit is haar storie.
“Ek is super trots om te sê dat Lienke so ’n dapper kind is,” vertel haar ma, Elana Strydom. “Ek bewonder haar deursettingsvermoë. Sy is regtig ’n vegter.”
In Januarie 2025 het Lienke se lewe onverwags ’n dramatiese draai gemaak toe ’n moesie op haar kop verwyder is. Wat aanvanklik soos ’n roetineprosedure gelyk het, het vinnig ontwikkel in ’n ernstige diagnose. Melanoom. Teen Februarie is die realiteit bevestig. Kanker.

Wat gevolg het, was ’n mediese reis wat min mense op só ’n jong ouderdom hoef te trotseer. Na verskeie toetse en skanderings is daar bevind dat die kanker na haar limfkliere versprei het. ’n Groot operasie van vyf en ’n half uur het in Maart gevolg, waartydens nie net die oorspronklike area behandel is nie, maar ook kliere agter haar oor en in haar nek verwyder is. Sommige was kwaadaardig, ’n harde werklikheid vir enige gesin om te dra.
En tog, deur dit alles, het Lienke nie gebreek nie.
Van Junie tot Julie 2025 het sy 30 sessies van bestraling in Klerksdorp ondergaan. ’n Uitputtende proses wat selfs die sterkste sou toets. Maar elke oggend het sy opgestaan, haar skoolklere aangetrek en haar plek in die klas ingeneem.
“Sy het geweier om ’n slagoffer van haar omstandighede te wees,” sê Elana. “Ten spyte van alles het sy steeds akademies presteer en selfs twee onderskeidings in haar eerste kwartaal behaal.”
In haar hele Graad 11-jaar was sy slegs 19 dae afwesig, dae wat sy gebruik het om op te vang, aan te hou en aan te beweeg. Sy het die jaar afgesluit met universiteitstoelating. ’n Prestasie wat veel meer beteken as net punte op papier.

Maar miskien lê Lienke se grootste oorwinning nie in haar akademie of haar fisiese herstel nie, maar in haar hart.
In haar eie woorde deel sy eerlik die innerlike stryd wat sy moes voer.
“Na verskeie operasies aan my gesig het ek deur ’n tydperk gegaan waar ek ongelooflik onseker gevoel het. Daar was oomblikke so donker dat ek myself skaars herken het. Dit was toe dat ek besef het niemand is perfek nie. Ek moes leer om myself te aanvaar vir wie ek werklik is en my eie waarde raak te sien, selfs op dae wanneer ek nie wou nie. Hierdie pad het my sterker gemaak en my meer dankbaar gemaak vir wat ek het. Vandag fokus ek op my karakter eerder as my weerkaatsing. My littekens is nie gebreke nie, dit is die hoofstukke van my oorwinning.”
Hierdie woorde dra die gewig van iemand wat diep gegroei het, iemand wat nie net oorleef het nie, maar getransformeer is.
Vandag droom Lienke daarvan om eendag ’n haarkapster te word, nie net om mense mooier te laat lyk nie, maar om hulle beter oor hulself te laat voel.
“Ek wil iemand in my stoel sit en nie net hul hare verander nie, maar hul selfvertroue bou,” sê sy. “Want ek weet hoe dit voel om te sukkel met hoe jy lyk.”
Dit is hierdie empatie, hierdie sagte krag, wat haar werklik uitsonder.
Die littekens wat sy dra, vertel ’n storie, nie van pyn nie, maar van oorwinning. Van iemand wat deur vuur gegaan het en sterker, wyser en mooier anderkant uitgekom het.
“Littekens vertel net waar ons was, dit bepaal nie waarheen ons op pad is nie,” sê Elana.
En Lienke se pad vorentoe? Dit is een van hoop, lig en onstuitbare moontlikhede.
Sy is nie net ’n oorwinnaar nie, sy is ’n inspirasie.



