Klein ster betower op die verhoog
Agter hierdie jong ster se sukses lê ure se toewyding.
Van die klaskamer tot die verhoog en binnekort selfs oorsee, is jong Kiara van Wyk besig om harte te steel én ’n verskil te maak.
Kiara, ’n graad een leerder aan Laerskool Bailliepark in Juffrou Nika Colyn se klas, is in Klerksdorp gebore en woon al die afgelope ses jaar in Potchefstroom. Ten spyte van haar jong ouderdom, stap sy reeds met selfvertroue ’n pad wat nie net glans en krone insluit nie, maar ook harde werk, deursettingsvermoë en ’n opregte hart vir haar gemeenskap. Haar reis in die modelbedryf het haar reeds indrukwekkende hoogtes laat bereik.
Haar titels tel onder meer:
- Face of Potchefstroom 2025
- Miss Rainbow Nations 2025
- Mini Queen of the Universe 2025
- Mini Miss RSA 2026
- Global Beauty Queen SA 2025
- National Beauty SA 2025 Mini Miss RSA,
Een van die groot kompetisies waarin sy deelneem, bied jong modelle die geleentheid om internasionaal deel te neem, maar dit verg veel meer as net ’n mooi glimlag. Deelnemers word aangemoedig om betrokke te raak by hul gemeenskappe, uit te reik na minderbevoorregtes en hul tyd op te offer waar dit die nodigste is. “Dit is harde werk met baie opofferings, vroeë oggende en laat aande op die pad, maar dit is alles die moeite werd,” word vertel.
Kiara het vanjaar van 6 tot 8 Maart aan die Mini RSA-kompetisie by Wawielpark deelgeneem. ’n Intense driedaagse ervaring wat haar nóg sterker gemaak het.
En haar reis stop nie daar nie. In Augustus wag Mosselbaai, waar sy weer haar staal sal wys, en later vanjaar, einde Oktober tot begin November, vertrek sy na Turkye om aan die internasionale Little Miss United World-kompetisie deel te neem.
Agter hierdie jong ster se sukses lê ure se toewyding. Kiara is deel van die All Star Modelskool, waar haar modelafrigter, Juffrou Nadira, baie ekstra ure insit om haar voor te berei.
“Dit is ’n pad van lag, huil, soms baklei, maar altyd aanhou,” sê Sonja Botha, Kiara se mamma. Sy oefen minstens vier dae per week, en die kompetisie is sterk, wat beteken dat sy konstant moet werk om op standaard te bly.
Vir Kiara gaan dit egter oor meer as net titels. Sy droom daarvan om eendag ’n juffrou te word, die beste model te wees, én selfs ’n veearts, want haar liefde vir diere ken geen perke nie. Boonop geniet sy dit om dansklassies aan haar maaitjies aan te bied, wat wys dat haar passie om ander te inspireer reeds vroeg begin.
Met haar voete stewig op die grond en haar oë op die sterre, is Kiara van Wyk beslis ’n naam om dop te hou.



