Die Luiperds se taak in die SA Beker raak nie makliker hierdie Vrydag wanneer hulle die Pumas in Mbombela aandurf nie.
Die Pumas is tweede op die punteleer en in goeie vorm nadat hulle Grens verlede naweek in Oos-Londen met 94-5 afgeransel het. Die Luiperds sal wil verbeter op hul vertoning verlede naweek toe hulle teen die Oostelike Provinsie met 43-31 op Olënpark verloor het.
Die Luiperds het beslis genoeg skietgoed gehad om OP te klop, veral nadat hulle met 17-0 in die eerste helfte voorgeloop het.
OP se rolmaalbewegings en kragtige spel voorlangs het egter die momentum in die besoekers se guns geswaai. Elke keer wat die Luiperds gelyk het of hulle terugveg, het OP weer toegeslaan in ’n wipwa-stryd.
Van die uitblinkers vir die Luiperds was Naiden Jaarts, wat twee drieë gedruk het. Die flank, Ghudian van Reenen, was ook een van die uitblinkers op die dag.
Luiperds-hoofafrigter Riaan van Straten is van mening dat sy span goeie rugby gespeel het, maar nog nie die nodige ervaring het om só ’n voorsprong te beheer nie.
“Dit is ervaring om in die regte areas te speel. Ons het verkeerde besluite in kritieke oomblikke gemaak. Ek is bly oor hoe ons baklei het, maar op tye was ons net te sag,” het hy genoem.
Van Straten was ook bly dat sy span ’n bonuspunt kon behaal en vyf drieë kon druk – iets wat hulle verlede jaar selde reggekry het.
“Dit sal kom met die Here se genade. Ons moet ervaring bou. ’n Mens leer dit juis met hierdie moeilike wedstryde. Ek is trots op die ouens se inspanning. Ons agterlyn het baie mooi drieë gedruk.”
Volgens Van Straten bou hulle na die Curriebeker Eerste Divisie, waar hulle ’n meer volronde span sal wees.
“Die ouens is besig om wedstryde op nuwe maniere te benader. Ek is opgewonde oor die groter prentjie. Ons is op pad in die regte rigting.”
Die wedstryd teen die Pumas skop 17 April om 19:00 af.
Spelers om dop te hou
Pumas:
- Sampie Swiegers (vaskopstut)
- André Fouché (flank)
- Sango Xamlashe (buitesenter)
Luiperds:
- Brandon Keevy (vleuel/buitesenter)
- Ghudian van Reenen (flank)
- Jandré Burger (losskakel)



