Inwoners sonder krag vir vyf dae in Ventersdorp weens kabeldiefstal
Die jongste kabeldiefstal en vandalisme-krisis is deel van 'n lang stryd waaronder inwoners in Ventersdorp gebuk gaan.
Ventersdorp-inwoners sit al vir meer as vyf dae sonder krag weens kabeldiefstal en vandalisme in die area. Kabeldiefstal is ’n gereelde probleem in die dorp en veroorsaak ’n sneeubaleffek vir besighede wat gebuk gaan onder hierdie dilemma. Watertoevoer word ook negatief geaffekteer met krane wat droogloop.
Tshing-inwoners het verder ook hul misnoeë oor die kragsituasie vanmiddag (Dinsdag, 21 April) getoon deur middel van ’n protesaksie op die N14 in die rigting van Coligny. Die pad is tans gesluit.

Volgens Pieter Steyn, Vryheidsfront Plus-raadslid in Ventersdorp, is kabels van ’n Eskom-lyn op Vrydag, 17 April, gesteel.
“Werkers van Eskom het oor die naweek probeer om die kabel te herstel, maar dit was moeilik toeganklik vir hul voertuie weens swaar reën en nat toestande.”

Verder was daar ook probleme met die transformator en moes onderdele verkry word om die busse van die transformator te herstel. Eskom se werkers het toetse op die transformator gedoen nadat die bus vervang is en vasgestel dat die transformator ’n probleem het.
Volgens Steyn het munisipale elektrisiëns ook aanpassings aan die inkomende gedeelte van die munisipale netwerk aangebring. Dit blyk ook dat die meeste van die groot fisiese werk nou afgehandel is. ’n Finale olietoets is ook positief en die skakelingsproses kan sodoende begin.
Dit is tans onseker hoeveel ure dit presies sal neem vir die krag om weer orals in Ventersdorp en Tshing herstel te word.
Kragondernemings affekteer sakeondernemings
Volgens ’n inwoner en voorsitter van die Ventersdorp Sakekamer, Retha Heymans, is kabeldiefstal ’n groot probleem vir besighede.
“Die toevoerkraglyne van Eskom word ten minste een keer per week gesteel, en die probleem is dat dit ’n ±60 km koperlyn vanaf Lichtenburg is. Gevolglik is Ventersdorp telkens vir minstens ’n dag sonder krag. Verder is die infrastruktuur van die plaaslike JB Marks Munisipaliteit ook nie op standaard nie,” voer sy aan.
Sy noem ook dat sommige plase en besighede al meer as twee jaar sonder krag is.
“Omdat transformators nie vervang word nie en lyne nie herstel word nie. Huidiglik, as ’n transformator foutief raak, moet boere en besighede dit self aankoop of alternatiewe krag installeer.”
Teen druktyd het die JB Marks Munisipaliteit nog nie terugvoer op die Herald se navraag gelewer nie.



