‘n Nalatenskap van geloof en familiebande
Mev. Klopper is op 10 April op die ouderdom van 89 jaar oorlede.
Die familie en vriende van Allewina Francina (Winnie) Klopper (néé Visser) neem met hartseer, dog diepe dankbaarheid, afskeid van ’n vrou wie se lewe gekenmerk is deur diensbaarheid en geloof.
Mev. Klopper is op 10 April op die ouderdom van 89 jaar oorlede.
“Maranata!” Die eenvoudige, maar kragtige uitroep waarmee haar lewe en geloof opgesom kan word.
Winnie is op 18 Oktober 1936 gebore as die oudste van 10 kinders. Van jongs af het sy ‘n rol van leiding en omgee vervul. Winnie het haar roeping uitgeleef as verpleegkundige, beide in die siviele en militêre omgewing, en later as huisvrou, waar haar grootste nalatenskap gelê het: haar onwrikbare liefde vir haar gesin.
Haar geliefdes onthou haar as ’n vrou met ’n sagte humorsin en ’n oog vir die klein vreugdes in die lewe. Vir haar kinders en kleinkinders was sy die hart van die familie, bekend vir haar vonkel in die oog en haar vermoë om met ’n grappie moed in te boesem.
Sy het haar liefde vir die Here nie net bely nie, maar daagliks uitgeleef. Haar lewe was ‘n stille getuienis van geloof, hoop en toewyding.
Haar lewe en nalatenskap kan saamgevat word in die woorde van Psalm 91:2: “Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.”
Winnie laat ‘n groot leemte en word oorleef deur drie kinders, vier skoonkinders, 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders, met nog twee op pad. Sy word ook oorleef deur twee broers en twee susters.
Die begrafnisdiens van Winnie Klopper vind plaas op 24 April om 11:00 vanuit die SDA Kerk in Du Plooystraat 70, Potchefstroom.



