Skilder met woorde en wen groot pryse
Leerders kan vanjaar uit 15 bekende Afrikaanse liedjies kies om hulle te inspireer.
Jong kunstenaars in Potchefstroom het die geleentheid om met groot pryse ter waarde van weg te stap tydens die Die tweede Skilder met Woorde-kompetisie wat Afrikaans.com aanbied.
Hierdie nasionale kompetisie gee laerskool-en hoërskoolleerders die geleentheid om artistieke talente ten toon te stel. Tuisskooleerders kan ook vir hierdie kompetisie inskryf.
Afrikaans.com se eerste Skilder met Woorde-kompetisie wat in 2021 plaasgevind het, was uiters suksesvol. Die kunstenaar Elsie Jooste en bekende musikant Anton Goosen het tydens dié kompetisie skoolleerders aangemoedig om een van Anton se liedjies te skilder.
“Na baie navrae van ouers en leerders wat ingeskryf het met ons vorige kompetisie, het ek besluit om die projek weer hierdie jaar te loods,” vertel Elsie. “Die inskrywings van ons eerste kompetisie het ons oorweldig. Ek is ’n groot voorstander van kuns in skole, en daarom is dit belangrik om so ’n kompetisie aan leerders voor te stel. Dit gee ook die geleentheid aan leerders wat tuis onderrig word, om hulle kreatiewe talente uit te leef.”
Leerders kan vanjaar uit 15 liedjies kies om hulle te inspireer.
“Die liedjies wat ek sorgvuldig gekies het, sing ’n prentjie. Wanneer leerders na die liedjies luister, kan hulle ’n beeld vorm wat vir hulle uitstaan. Die liedjies wat ek gekies het, is van toeka tot nou; liedjies wat leerders nou luister, en liedjies wat klassiek is in die Afrikaanse musiekwêreld.”
Elsie en die bekende sanger en kunstenaar Jan Blohm gaan die inskrywings beoordeel.
“Met die beoordeling van die kunswerke, gaan ons kyk na die uitbeelding, emosie, komposisie en tegniek van elke kunswerk. Leerders kan in enige medium werk,” sê sy.

Hoe werk die kompetisie?
Met die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie word laerskool- en hoërskoolleerders uitgedaag om een van die volgende 15 bekende Afrikaanse liedjies te skilder:
- Lappop (Carike Keuzenkamp)
- Kinders van die Wind (Laurika Rauch)
- Tik Tok (Anton Goosen)
- Inge 2 (Piesangskille)
- Afrikaners is plesierig (Karen Zoid)
- Ou Ryperd (Dozi)
- Vier seisoene (Gian Groen)
- Skepe (Jo Black)
- Sonvanger (Valiant Swart)
- Namibsroos (Theuns Jordaan)
- Groen Trui (Jan Blohm)
- Verander (Spoegwolf)
- Dagdrome in Suburbia (Francois van Coke)
- Draadloosdae (Adam Tas)
- Royal Hotel (David Kramer)
Klik hier meer oor hierdie kompetisie uit te vind.
Inskrywings open 25 Maart 2026 en sluit 3 Julie 2026. Wenners sal in die eerste week van Augustus 2026 aangekondig word.
Deelnemers kan uitsien na kontantpryse ter waarde van R28 000.
Die volgende individuele pryse is op die spel:
Laerskool:
Eerste prys: R3 000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R8 000.)
Tweede prys: R2 000
Derde prys: R1 000
Hoërskool:
Eerste prys: R3 000 (Die skool waarin die betrokke leerder is, sal ook wegstap met R8 000.)
Tweede prys: R2 000
Derde prys: R1 000



