Fragmente-uitstalling verweef geskiedenis, herinneringe en kuns in Potchefstroom
Greyling, ’n buitengewone professor in Skryfkuns verbonde aan die Navorsingseenheid Language and Literature in Complex Settings aan die North-West University (NWU), se loopbaan strek oor meer as vier dekades.
Ná dekades as opvoeder, skrywer, navorser en mentor vir talle jong skrywers, bring prof. Franci Greyling nou haar belangstelling in stories, geskiedenis en kreatiewe eksperimente saam in Fragmente, ’n uitstalling wat tans by die Potchefstroom Museum besigtig kan word.
Greyling, ’n buitengewone professor in Skryfkuns verbonde aan die Navorsingseenheid Language and Literature in Complex Settings aan die North-West University (NWU), se loopbaan strek oor meer as vier dekades. Sy het haar onderwysloopbaan in 1981 in Pretoria begin en was vir ongeveer twintig jaar verbonde aan Hoërskool Overkruin en Hoërskool Pretoria-Noord. Daarna het sy vir nog twee dekades as dosent in Skryfkuns aan die NWU gewerk, waar sy ’n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van kreatiewe skryfwerk in Suid-Afrika gelewer het.

Die uitstalling Fragmente weerspieël baie van die temas wat deur haar loopbaan loop, herinnering, plek, geskiedenis, identiteit en die maniere waarop mense hul stories bewaar en oordra. Die titel dui reeds op die versameling brokstukke van ervarings, reise, dokumente, herinneringe en vertellings wat saam ’n groter verhaal vorm.
Greyling is veral bekend vir haar belangstelling in historiese storievertelling en alternatiewe vorme van narratief, insluitend konkrete en digitale literatuur. Van haar bekendste jeugboeke sluit Dirkie, Drieka, Frederika en Die meisie van Melrosehuis in.
Sy het ook in 2000 die webtuiste Storiewerf geskep, wat oor jare heen ’n belangrike platform vir kinder- en jeugliteratuur en die ontwikkeling van jong skryftalent geword het.
Sedert 2004 was Greyling by talle interdissiplinêre kreatiewe en navorsingsprojekte betrokke. Hierdie projekte het dikwels die grense tussen literatuur, visuele kuns, tegnologie en gemeenskapsdeelname oorgesteek. Een van die bekendstes is die Byderhand-projek, wat plekspesifieke digitale literatuur ondersoek en in 2015 tydens die Aardklop National Arts Festival in Potchefstroom bekend gestel is. Die projek het sedertdien na verskeie plekke uitgebrei, met die jongste ontwikkeling die insluiting van Byderhand Karootuinverse in ’n brailleroete in die Karoo Desert National Botanical Garden.
’n Besonderse fokus van die Fragmente-uitstalling is Greyling se belangstelling in die geskiedenis van Anglo-Boereoorlog-krygsgevangenes. Aan die begin van 2025 het sy die afgeleë eiland Saint Helena besoek om die voetspore van Boerekrygsgevangenes te volg wat gedurende die oorlog daar aangehou is.

Uit dié reis het die kunstenaarsboek Op St. Helena ontstaan, wat deel van die uitstalling vorm. Die werk ondersoek herinneringe, verlies, afstand en die nalatenskap van die oorlog deur middel van beeld, teks en navorsing. Dit sluit aan by ’n vroeëre kunstenaarsboek, Na Bermuda, waarin Greyling die ervarings van krygsgevangenes tydens hul seevaart na Bermuda ondersoek het.
Deur kunstenaarsboeke, visuele elemente, historiese verwysings en persoonlike navorsing word besoekers uitgenooi om self die fragmente van die verlede saam te voeg en nuwe betekenis daarin te vind.
Die uitstalling bied terselfdertyd ’n blik op Greyling se merkwaardige loopbaan as opvoeder, skrywer, navorser en kreatiewe denker, iemand wat oor dekades heen voortdurend nuwe maniere gesoek het om stories te vertel en mense met mekaar, hul geskiedenis en hul omgewing te verbind. Franci se ma, Mossie, wat in 2021 oorlede is, sowel as haar broerskind, Henrico Greyling se kunswerke is ook tydens die uitstalling te sien.
Fragmente is to 12 Junie by die Potchefstroom Museum te sien en bied kunsliefhebbers, geskiedenisentoesiaste en literêre belangstellendes ’n geleentheid om kennis te maak met die uiteenlopende kreatiewe wêreld van een van die Noordwes se mees invloedryke skrywers en navorsers.



