Spesiale Jeugdag-afslag op uitgesoekte Aardklop-produksies
Produksies sluit in Ek is nie Danie, Vlerktog en Vincent: His Quest to Love and Be Loved onder andere in.
Aardklop bied ‘n spesiale Jeugdag-afslag promosie aan vir uitgesoekte produksies oor ‘n tydperk van 48 uur tussen 16-18 Junie.
Die afslag op dié uitgesoekte kaartjies is 30%* (dus bykans ’n derde va die prys). Wanneer feesgangers kaartjies aanlyn by SeatMe.co.za gaan koop, kan hul ’n spesiale promo-kode invoeg om die afslag te kry. Die kode vir die Jeugdagpromosie is J0NG26 (let wel, die 0 ná die J is die syfer nul, en nie ’n letter nie).
Feesgangers kan net tussen Dinsdag 16 Junie (Jeugdag) om 08:00 en Donderdagoggend 18 Junie om 08:00 van hierdie spesiale aanbod gebruik maak.

Die produksies waarvoor die afslag geld, is:
- Twit maak maats op Robbeneiland: In dié kinderproduksie, een van ’n trilogie, ontmoet Twit die pikkewyne Borrel en Korrel op Robbeneiland, waar hulle die vuurtoring se lig moet regmaak. Met Melandi Swiegelaar, Luan Maartens en Chrizaan Raath en teks deur Chrizaan Raath. (Volprys: R100 en R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R35 vir kinders onder 10)
- Twit verdwaal in die Kangogrotte: Wanneer Twit diep in die Kangogrotte verdwaal, probeer hy alleen sy pad terugvind, maar maak per ongeluk die grot se mure wakker. Dan begin die stories . . . (Volprys: R100 en R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R35 vir kinders onder 10)
- Twit se trippie in die Knysnabos: Op sy soektog na die legendariese Grootvoet van die Knysnabos ontmoet Twit vir Skorrie Hardebaard, ’n man met gevaarlike geheime. (Volprys: R100 en R50 vir kinders onder 10. Afslagprys: R70 en R35 vir kinders onder 10)
- Ek is nie Danie: Dié Kanna-bekroonde produksie is ’n storie oor ouerskap en die soeke na behoort en sin maak, gewikkel in die vlamjas van verse en verbysterende musiek, geweef rondom ’n keur uit Danie Marais se vier digbundels. Met Albert Pretorius en Schalk Joubert. (Volprys: R150. Afslagprys: R105)

- Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene, Lemoene: ’n Jong verliefde paartjie navigeer ’n wêreld waar net 140 woorde per dag gebruik mag word, waar stilte en konflik hul verhouding toets, tot hulle moet vra of daar werklik nog iets oor is om vir mekaar te sê. Met Mienke Ehlers en Dean John Smith. (Volprys: R190. Afslagprys: R133)
- Vlerktog (Pronk Podium): Twee pare vriende trotseer Berg Azrael, elk met hul eie doel. Dit is ’n verhaal van dapperheid, selfopoffering, selfaanvaarding en vriendskap. Met Blyde Schoeman, Hendré Henning, Kevin Olckers en Symone Venter en teks deurWessel Pretorius. (Volprys: R120. Afslagprys: R84)
- Vincent: His Quest to Love and Be Loved: The three-time Naledi Award-winning pocket musical tells the story of Van Gogh – complex man with an unrelenting drive to create and a deep-seated desire to love and be loved. (Volprys: R200. Afslagprys: R140)
- Joshua na die Reën: Noorderlig: ’n Musiekervaring uit die binnewêreld van Jacques de Villiers (Joshua na die Reën) wat jou op reis sal neem na die dag wat jy hierdie atmosfeer binnegedring het. (Volprys: R220. Afslagprys: R154)
*Let wel, hierdie afslag is slegs van toepassing op die volle kaartjieprys. Hartsvriende en in sommige gevalle pensioentrekkers betaal reeds minder vir kaartjies, en kom daarom nie in aanmerking vir hierdie afslag nie.
Meer inligting by aardklop.co.za



