Dit was ‘n drieëfees op Olënpark vanmiddag (Saterdag, 13 Junie) tussen die Luiperds en die SWD Arende met die besoekers wat op die ou einde met 44-38 hul Curriebeker Eerste Divisie-stryd gewen het.
Daar was 14 drieë (Luiperds 6 en SWD 8) wat aangeteken is.
Luiperds moes ondanks ‘n terugvegpoging laat in die tweede helfte aan die verloorkant eindig.
Die Luiperds se binnesenter, Brandon Keevy, het ‘n rooi kaart in die tweede helfte gekry en dit het dit moeilik vir die Luiperds gemaak wat vir ‘n 20-minute tydperk met 14 man moes speel.

Die Luiperds was met 26-24 teen halftyd maar het met die speleragterstand hul voorsprong prysgegee met die telling wat met 44-26 in SWD se guns geskuif het.
Naiden Jaarts se twee drieë het hoop gegee vir die Luiperds maar hul het toe alreeds uit tyd gehardloop.
Die eerste helfte was soos ‘n wafferse tennisstryd soos albei spanne drieë geruil het tussen mekaar.
Die Luiperds het eerste gedruk toe die heelagter, Shaun Baxter oorduik. SWD se Sisipho Nofuya maak die telling gelyk.
Sino Tsontyi het met twee uitstekende drieë in die hoekie die Luiperds se telling vergroot. SWD het weer hul stempel afgedruk toe Masande Mtshali en Janus Venter oorduik.
Kort voor halftyd is Burger oor na ‘n goeie breek en fopaangee. Burger se skopskoen was ook op dreef – hy het net twee doelskoppe gemis.
Die SWD se Ulrich Stander, Neil Beukes, Ulrich Wahl, Sean Roulston en Rosco Syster het vyf verdere drieë vir die besoekers in die tweede helfte aangeteken. Roulston, wat vanjaar Varsitybeker vir NWU gespeel het, het op sy debuut vir SWD, gedruk.
Foto’s: Wouter Pienaar











