Potchefstromers herdenk Konsentrasiekampdag by Vyfhoek Kampkerkhof
Dit was 'n spesiale dag toe Potchefstromers hul voorgeslagte herdenk het wat in die Anglo Boereoorlog gesterf het.
‘n Groep Afrikaners, onder leiding van die AfriForum Potchefstroom-tak, het Dinsdagoggend, 16 Junie, die koue trotseer om hulde te bring aan hul voorgeslagte wat in konsentrasiekampe gesterf het en talle moeilikhede tydens die Anglo-Boereoorlog beleef het.
Een van hierdie konsentrasiekampe was by Vyfhoek, waar die herdenking en kranslegging plaasgevind het.
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, het ‘n paar verse uit Psalm 147 voorgelees.
“Hy het die volk weer teruggebring. Wonde is verbind. Die Almagtige Skepper ken elke ster en ken hulle name. As ons terugdink aan die mans en vroue tydens die Anglo-Boereoorlog, het hulle baie van dieselfde ervaar, maar hulle het die Here vertrou en weer opgebou,” het Pretorius gesê.
Die kurator van die President Pretorius-museum, Johan Wolfaardt, het ook wyse woorde gedeel met die vraag: “Is ons die hamer of die aambeeld?”
“Hulle het gekies om weer te bou waar afgebreek is. Hulle het gekies om die aambeeld te wees,” het hy gesê.
Lede van die Totius Voortrekkers het die vlagpresentering en kranslegging behartig, waarna lede van die publiek ook blomme by die monument kon neerlê.
Foto’s: Wouter Pienaar










