Ysterperde vir Afrika in Potch
Motorfietse van verskillende eras het harte vinniger laat klop tydens hierdie byeenkoms by die Nederduitsch Hervormde Kerk Potchefstroom-Suid.
Motorfietsliefhebbers kon vandag (16 Junie) by die Potchefstroom Motorfietsekspo na verskillende modelle van toeka tot nou hul verkyk. Die Hervormde Kerk Potchefstroom-Suid bied hierdie byeenkoms al vir die afgelope ses jaar aan.
Dit was ‘n gulde geleentheid wat baie motorfietsryers van oraloor die Noorde van Suid-Afrika gelok het. Sekere motorfietsryers het hul modelle kom uitstal terwyl ander net kom oĂ« wys het en saam met verskillende motorfietsklubs oor hul gedeelde passie kon gesels.







Vanjaar is die sesde uitgawe van hierdie immergewilde ekspo wat die harte van ysterperdliefhebbers vinnigerlaat klop.
“Die gedagte agter hierdie byeenkoms is om motorfietse ten toon te stel – juis die wat in mense se agterplaas of motorhuis staan. Of dit werk of nie, dit gaan meer oor die uniekheid van die model,” noem die organiseerder, Ds. Geo Smit.
“Dan het ons ook baie mooi motorfietse wat ouens wil uitstal wat regtig besonders is. Dit is motorfietse wat in ons saal staan. Ek gaan gereeld na verskeie klubs toe en die ondersteuning is net ongelooflik. Daar is ouens van die Wesrand, Klerksdorp, Pretoria en nog meer,” vertel hy verder.
Daar sal ook pryse vir die beste motorfiets wees waarvoor feesgangers kan stem, wat ‘n ekstra tikkue geur aan die byeenkoms gee.
Foto’s: Wouter Pienaar








