Potchefstromer geniet besondere Bokkieweek-ervaring
Bokkieweek is 'n nasionale sport- en kultuurweek wat deur die Afrikaanse Volkswelsyn (AVS) aangebied word.
Vir JC Menezies, ‘n Graad 11-leerder van Volkies, was Bokkieweek 2026 veel meer as net ‘n rugbytoernooi. Dit was ‘n week gevul met uitdagings, nuwe vriendskappe en onvergeetlike herinneringe wat sy passie vir die spel net verder versterk het.
‘n Hoogtepunt van die week was toe JC as Speler van die Wedstryd aangewys is,’n eer wat hom heeltemal onkant gevang het.
“Ek was baie verbaas, want ek het persoonlik gevoel dat ek nie so goed gespeel het nie,” vertel hy.
Die toekenning het egter vir hom bevestig dat harde werk wel raakgesien word en het hom nóg meer gemotiveer om die doelwitte wat hy vir homself gestel het, na te jaag.
“Dit het baie vir my beteken, want dit was die begin van die week en ek het ‘n groot doel gehad wat ek wou bereik. Dit het my net meer moed gegee dat ek dit kan bereik.”
Volgens JC was die atmosfeer tydens die week iets besonders, met ‘n spanmaatgees wat die ervaring onvergeetlik gemaak het.
“Ons was ‘n baie lekker groep seuns. Die week was vol grappies, maar rugby het steeds ons groot fokus gebly.”
Hy sê hy het dit veral waardeer dat elke speler die geleentheid gekry het om homself op die veld te bewys.
“Ek het daarvan gehou dat ons elkeen ‘n regverdige kans kry om onsself op die veld te bewys. Die week se rugby het almal van ons getoets en ons kon saam leer en groei. Van die veld af was die beste die vriendskappe wat ons kon bou en die nuwe mense wat ons kon ontmoet.”
JC skryf sy sukses toe aan die mense wat hom deur die jare ondersteun het, met spesiale waardering vir sy grootouers.
“My ouma en my oupa leef saam met my droom vandat ek bulletjierugby gespeel het. Hulle is elke wedstryd daar en huiwer nooit as ek hulp nodig het nie.”
Hy bedank ook sy afrigters en almal wat ‘n rol gespeel het om hom die geleentheid te gee om deel van Bokkieweek te wees.
Aan ander jong rugbyspelers wat groot drome koester, het hy ‘n eenvoudige, maar kragtige boodskap:
“Obsession beats passion. Jy moet altyd beter wil wees en bereid wees om te leer. Speel jou hart uit en omring jou met mense wat dieselfde doel as jy het.”
Bokkieweek is ‘n nasionale sport- en kultuurweek wat deur die Afrikaanse Volkswelsyn (AVS) aangebied word. Die geleentheid bied aan jongmense van regoor Suid-Afrika die kans om in sportsoorte soos rugby, netbal en hokkie mee te ding, terwyl Afrikaanse kultuur- en geloofswaardes terselfdertyd bevorder word.
Die ontstaan van Bokkieweek dateer terug na 1986 toe wyle oom Daan Nolte, destyds adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Rugbyraad, en Boetie Malan die behoefte aan ‘n eie sporttoernooi vir Afrikanerjeug raakgesien het. Die AVS Noord-Transvaal is in 1992 gestig en het reeds daardie jaar saam met ses ander provinsiale o.13-rugbyspanne aan die eerste Bokkieweek deelgeneem.
In 1994 het die eerste amptelike Bokkieweek-toer plaasgevind toe AVS se o.13- en o.19-rugbyspanne na Suidwes-Afrika, vandag Namibië, getoer het. Sedertdien het die byeenkoms gegroei tot ‘n gevestigde jaarlikse instelling waar duisende skoolkinders van regoor die land saamkom om sport te beoefen, nuwe vriendskappe te smee en hul kultuur te vier.



