Local newsNewsNews

Motorherstelwerk is sy gawe van die Here

"Die bevredigendste aspek van my werk as motorwerktuigkundige is om die geluid te hoor van ’n enjin wat aanskakel. Dit is die mooiste geluid."

Om aan motors te werk laat die ratte in Pieter Henzen (76) se kop behoorlik loop. Daar is geen remme aan die passie wat hy vir motors het en om mense se dag te maak met sy vernuf as motorwerktuigkundige nie.

Sodra Pieter sy voet op die spreekwoordelike petrolpedaal sit, is dit ooglopend dat sy beroep vir hom meer as net werk is. Dit is ’n gawe van die Here – ’n passieprojek wat sedert 1968 steeds vrug dra.

“Die bevredigendste aspek van my werk as motorwerktuigkundige is om die geluid te hoor van ’n enjin wat aanskakel. Ek het nog nooit ’n motor hoef te sleep om dit aan die gang te kry nie. As ’n mens die sleutel draai en die enjin skakel aan, is dit die mooiste geluid.”

Pieter vertel hoe die Here hom daagliks inspireer en krag gee.

Pieter is ’n wedergebore Christen wat vir God al die lof en eer gee. Sonder Christus weet hy dat hy nie sou wees waar hy vandag is nie.

“Dit is my geloof in Christus wat bydra tot waar ek vandag is en my ook in die toekoms sal dra.”

Pieter praat met groot lof oor sy ouers, Matthys (Dad) en Sus, se rol in die mens wat hy vandag is en in sy wandel met God. Hy is ook al 37 jaar met sy vrou, Rientia, getroud en sê haar ondersteuning is goud werd.

“Ek het in Ellaton grootgeword en was in KHS in Klerksdorp op skool. Ek het in ’n goeie huis grootgeword. Daar was nie drank en sigarette nie, en daar was wedersydse respek vir mekaar,” vertel hy.

Pieter se lewe het verder rigting gekry toe hy die krag van die Heilige Gees ervaar het en van die doop in die Heilige Gees kon getuig.

“Ek besef dat niks oor my gaan nie, maar daaroor om Hom al die eer te gee. Hy is die begin en die einde,” sê Pieter met ’n groot glimlag en ’n sprankel in sy oë.

Ná skool het Pieter se loopbaan as motorwerktuigkundige by Three Fountains begin, waar Faan Meintjies sy leermeester was.

“Faan was iemand wat net in reg en verkeerd geglo het. Daar was niks tussenin nie. Ek is ná drie maande ’n kans gegee om my vakopleiding te voltooi.”

Ná ’n skuif na ’n Ford-handelaar het Pieter weer na Three Fountains teruggekeer, waar hy baie goeie jare beleef het. Later, in die 1980’s, was hy ook by Harold’s Volkswagen werksaam.

In 1974 is hy ook die eer te beurt geval om ’n Volkswagen-gilde-toekenning te ontvang, nadat hy slegs ’n paar jaar as motorwerktuigkundige agter die rug gehad het.

“Die Here het my baie gehelp deur die jare. Die motorbedryf is nie maklik nie. Dit het ’n manier om jou op jou knieë te hou. In tye wanneer ek nie kon werk nie, het God mense op my pad gestuur en kon ek hulle verduidelik wat om te doen,” sê Pieter.

Volgens Pieter speel sy lojale kliënte en ondersteuners ’n sleutelrol om hom te laat aanhou om sy passie vir motorherstelwerk, selfs in sy 70’s, voluit uit te leef.

“Johan Nel is my oudste kliënt en hy is al 91. Ek glo dit waarvoor jy lief is, sal jy nie kan los nie. Elke dag is ’n leerskool.”

Pieter het ’n groot voorliefde vir Volkswagen, wat altyd sy eerste keuse sal wees. Tog strek sy kennis oor motorvoertuie oor feitlik alle vervaardigers.

“Jy kan nie kennis koop nie. Boekekennis is een ding, maar om die praktiese ervaring te hê, is iets heeltemal anders. Ek is meer as bereid om my kennis te deel.”

Belangstellendes kan Pieter kontak by 018 294 5061 of 072 908 7357.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button