Koshuisleiers vas vir 48 uur in ‘n glaskas om bewusmaking te skep
Die doel van Big Prims is om bewustheid te skep vir studente wat minder bevoorreg is en nie toegang tot kos het nie.
Die Big Prims-tradisie is van 15 tot 16 Julie op die NWU Potchefstroomkampus voortgesit, waar die primarius en primaria van mans- en dameskoshuise vir 48 uur sonder kos en slegs water in ’n glaskas in die Amfiteater op kampus moes deurbring.
Die doel van Big Prims is om bewustheid te skep vir studente wat minder bevoorreg is en nie toegang tot kos het nie. Geld word tydens hierdie 48 uur-byeenkoms ingesamel vir die Primfonds, wat studente in nood in verskeie koshuise help.

Veritas Manskoshuis se primarius, Estiaan Vorster, noem dat dit ’n uitdagende, maar tog bevredigende tyd was wat sy bewustheid van die nood vergroot het.
“’n Mens kan net iemand help as jy weet en verstaan waardeur hulle gaan. Ek is dankbaar ek het dit gedoen. Toe ek die 48 uur-uitdaging aangepak het, kon ek verstaan hoe om ouens in die koshuis beter te help. ’n Mens besef die dringendheid daarvan.”

Die Prims moes in die koue slaap en het gedurende die tydperk ook aan talle aktiwiteite deelgeneem wat die gees hoog gehou het.
“Die koue was rof in Potch. Ons slaap buite op matrasse, so dit het dit ook moeilik gemaak. Om die hele tyd tussen 40 ander Prims en mense wat om jou is, te wees. As jy nie eet nie, fokus jou brein net daarop om kos te kry, so jy sukkel dan om sosiaal te wees. In dieselfde asem deel mens dieselfde uitdagings, so daar is daardie samehorigheid tussen al die Prims, wat dit lekker maak,” vertel Estiaan.
“Al die koshuise se gees was ongelooflik. Ek is 02:00 wakker gemaak deur my koshuis, wat aangehou het om my te ondersteun. Jy leer so baie van jouself en wat mense om jou deurgaan, wat jy nie noodwendig besef het nie.”

Chanelle Smith, primaria van Vergeet-My-Nie Dameskoshuis, noem dat die ervaring ’n groter bewustheid skep oor die nood wat studente ervaar.
“Dit raak rof. ’n Mens raak regtig honger. Een ding wat baie help, is dat ek ná 48 uur weer iets kon eet. Party mense het nie kos ná daardie 48 uur nie. Dit laat ’n mens besef dat die nood baie groot is. ’n Mens sukkel om te dink. Jy sleep oor jou woorde. Dit is erg om te dink studente moet met klasse en eksamens aangaan terwyl hulle so honger is.”
Die veiling was ook ’n hoogtepunt, waar die koshuise geld ingesamel het vir minderbevoorregtes.

“Tydens die veiling kan ons iets koop en wen. Dan het ’n mens ’n kans om byvoorbeeld dalk een Smartie te wen. Die leidraad was dat dit iets rond was. Ek het toe R400 vir ’n plastiekbal betaal,” vertel Chanelle.
Tydens die veiling het sy ook gesien dat daar groot samehorigheid en eenheid tussen al die Prims was.
“Ek het R2 000 spandeer om enige koeldrank van my keuse te koop. Ek het toe ’n twee-liter Coke gekoop om met al die Prims te deel.”
Terselfdertyd het die primaria van Kasteel, Coreen de Villiers, twee brode en Foxi Naks met ’n R50-prys by die SS gekoop om met al die Prims te deel.
“Ek dink nie droë brood en chips het al ooit so lekker geproe nie. Dit was spesiaal om daardie mededeelsaamheid en eenheid te kon sien,” beaam Chanelle.



