Patria July weer ‘n groot treffer onder studente
Die Patria July word staan met rede bekend as die grootste studentefees.
Die Patria July-tradisie is hierdie afgelope Saterdag, 25 Julie, vir die 12de keer by Snowflake voortgesit.
Dit was weer ’n ongelooflike studentebyeenkoms met iets vir almal, of dit nou die musiek, aktiwiteite of goeie samesyn was.
Die wenner van vanjaar se Miss Patria July was Danica Cronjé van Dinki Dameskoshuis. Andrea Beukes van Wag-’n-Bietjie Dameskoshuis was die eerste prinses. Die tweede prinses was Zandri du Plessis van Klawerhof Dameskoshuis. Elke finalis het uitstekend gevaar, met tellings wat slegs ’n haarlengte van mekaar verskil het.

Op die hoofverhoog was bekende kunstenaars soos Chris Steyn, Riana Nel, Die Heuwels Fantasties, Early B asook Bok van Blerk te sien. Van Blerk het ook die ikoniese “Ons Vir Jou O Patria” gesing, waar al die Patriane saam die koshuislied uit volle bors gesing het.


In die Social-tentarea het die kunstenaars Jacques Not Jack, asook Gstring, vertonings gelewer. Die seremoniemeester vir Patria July was die sosialemedia-persoonlikheid, Buksem Scott.
Volgens Tiaan van Rooyen, HK-lid van Patria July, Akademie en SID, het elke Patriaan maande lank gewerk om die sukses van Patria July te verseker.
“Ek en Jehoshua De Bruyn (HK-lid van Patria July en Sport) wil net dankie sê aan almal wat dit moontlik gemaak het. Aan Snowflake en elke Patriaan wat vir maande lank gewerk het aan die grootste studentefees in die land. Die slagspreuk vanjaar was Making History Again, en ons het wel weer geskiedenis gemaak.”




