Local newsNewsNews

Elektriese span werk dag en nag om krag in Grimbeekpark en Bailliepark te probeer herstel

Die munisipale elektriese span is reeds sedert Saterdag besig om foute te herstel en grond oop te grawe om by die kabels uit te kom wat vervang moet word.

Augustus het op ‘n moeilike wyse vir sommige inwoners van Grimbeekpark en Bailliepark begin, met geen kragtoevoer nie sedert Saterdag 1 Augustus omstreeks 04:30.

Sekere strate in Grimbeekpark en Bailliepark word geraak, met verskeie woonkomplekse in die gebied wat steeds sonder krag is.

Die munisipale elektriese span is reeds sedert Saterdag besig om foute te herstel en grond oop te grawe om by die kabels uit te kom wat vervang moet word. Leliestraat se kragtoevoer is intussen herstel met die substasie wat om 01:15 aangeskakel is.

Die Herald was vanmiddag (Dinsdag, 4 Augustus) omstreeks 14:30 op die toneel in Watsoniastraat in Grimbeekpark, waar ‘n groot munisipale span besig was met herstelwerk. Dit is onseker wanneer die krag weer gaan terugkom, weens die hoeveelheid herstelwerk wat voorlê.

Volgens die JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het tegniese spanne drie foute geïdentifiseer en werk hulle dag en nag om die nodige herstelwerk te voltooi.

Munisipale spanne besig met werk om die kragtoevoer te herstel.

“Dit sluit die uitgrawing van die beskadigde dele van die elektrisiteitsnetwerk in sodat kabelverbindings herstel kan word en die kragtoevoer so veilig en doeltreffend moontlik herstel kan word.”

‘n Massiewe boom se wortels is in en deur die elektrisiteitskabel verstrengel op die plek waar die las gemaak moet word. Werkers moes gevolglik hard werk om die grond oop te grawe en die foute op te spoor.

Een van die munisipale werkers vat ‘n ruskans na hy ‘n harde skof ingesit het. Daar is ‘n groot munisipale span wat in skofte werk. Foto: Wouter Pienaar

Volgens die DA-wyk 3-raadslid, Anné van Onselen, het spanne gisteraand in die koue aangehou werk om die foute op te spoor en te herstel.

“Die elektrisiëns gee hul bes. Dit is nie weens ‘n gebrek aan toewyding dat die krag nog af is nie. Verskeie inwoners het ook hul kragopwekkers, vrieskaste, warm storte en gasplate aangebied,” sê sy.

Een van die kabellaste.

Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is.

“Ons spreek ons opregte waardering uit vir die begrip en geduld van inwoners wat deur die kragonderbreking geraak word terwyl die herstelwerk voortduur,” sê Tshite.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button