Jazz-komponis gaan sy musikale stories by Aardklop deel
"Die produksie neem die gehoor op ’n reis van waar my liefde vir jazz begin het, deur my eerste jazzkomposisie wat ek in 2014 geskryf het, tot by my meestersgraad en die musiek wat ek vandag skryf."
Die talentvolle pianis en komponis, Marcel Dednam, gaan vanjaar sy eie komposisies in ’n musikale reis getiteld Oorsprong as produksie by Aardklop aanbied.
Die tema van sy konsert is juis persoonlik, omdat dit aansluit by sy eie stryd om nie bang te wees om musiek te speel en homself as kunstenaar uit te druk nie.

“Hierdie produksie is vir my ’n eerste groot stap om myself as kunstenaar daar buite te stel en my eie musiek met ’n groter gehoor te deel,” vertel Marcel, wat al saam met kunstenaars soos Nataniël, Anna Davel, Jannie du Toit en Karlien van Jaarsveld opgetree het.
Sy musikale reis het op negejarige ouderdom begin toe hy klavier begin speel het. Hy het klassieke klavier tot UNISA Graad 8 voltooi voordat hy jazz aan TUT studeer het, al kom hy glad nie uit ’n jazz-agtergrond nie.
“Die produksie neem die gehoor op ’n reis van waar my liefde vir jazz begin het, deur my eerste jazzkomposisie wat ek in 2014 geskryf het, tot by my meestersgraad en die musiek wat ek vandag skryf. Ek vertel ook iets van hoe elke komposisie ontstaan het en wat my geïnspireer het om dit te skryf. Die musiek word dus ’n soort musikale dagboek van my ontwikkeling as komponis en musikant,” verduidelik Marcel.
Volgens hom beweeg die musiek van Oorsprong deur verskillende jazzstyle, van blues en funk tot samba en meer kontemporêre jazz. Daar is selfs ’n Beatles-liedjie in die program.
“Ek het ook oor die jare baie verwerkings van verskillende soorte musiek gedoen, en dit is ’n belangrike deel van my werk en ’n groot passie van my. Die bekende liedjies in die program gee my die geleentheid om musiek waarvan ek hou op ’n nuwe manier te benader en dit deur jazz te herinterpreteer.”

Marcel het ook Afrikaanse liedjies by sy produksie gevoeg, aangesien dit deel van sy reis vorm.
“Afrikaanse musiek en jazz is albei belangrike dele van my werk as musikant. Ek werk al vir ’n paar jaar saam met Anna Davel, wat een van die eerste kunstenaars was wat my die geleentheid gegee het om haar te begelei. Vir hierdie produksie het ek bekende Afrikaanse liedjies gekies waarvan ek hou en wat vir my iets beteken, en dit dan in ’n nuwe, opwindende jazzstyl verwerk.”
In Oorsprong sal Werner Spies, Peter Auret, Davel en ook Marcel se vrou, Deryn, deel van die produksie wees.
“Ek en Deryn is nou sewe jaar getroud en werk gereeld saam aan verskillende produksies. Ek geniet dit baie om saam met haar musiek te maak, en ek dink die saksofoon werk baie lekker in hierdie musiek. Sy bring haar eie persoonlikheid en interpretasie na my komposisies en verwerkings, en dit laat die musiek weer anders klink. Werner Spies en Peter Auret is albei ongelooflik talentvolle en ervare musikante met ’n baie wye musikale agtergrond. Hulle speel in verskeie produksies en is albei lede van die Charl du Plessis Trio.”
Marcel woon in Pretoria en is opgewonde om in Potchefstroom sy talent en komposisies by hierdie bekende kunstefees ten toon te stel. Vir Marcel gaan Oorsprong daaroor om ja te sê en jou eie stem te laat floreer.
“Ek hoop die gehoor geniet die musiek, maar ook dat hulle iets van die persoonlike stories daaragter saam met hulle huis toe neem. Ek hoop die produksie inspireer mense om nie bang te wees om te doen waarvoor hulle lief is nie – selfs wanneer hulle onseker voel.”



