Boekgesprekke sal Aardklop feesgangers se intellektuele dors les
Daar is altesaam 25 heel uiteenlopende gesprekke by Aardklop - en dit is als verniet. Gesprekke rakende politiek, die Springbokke sowel as die lewe oor die algemeen sal ieder en elk trek.
Die mens is nou maar eenmaal ’n groepdier – een grotmens het immers nie ’n kat se kans teen ’n sabertandtier gehad nie, maar ’n groep van hulle kon ’n mammoet neervel en sommer die hele winter lank kos hê.
Vandag hoef ons (meestal) nie weerbaar teen roofdiere te wees nie, maar die menslike psige is steeds ewe geanker in saamwees. Ons vertel stories, ons maak sin van die wêreld deur met mekaar daaroor te praat, ons ontleed en bespreek en bespiegel.
Soos elke jaar, het Momentum Aardklop vanaf 29 September – 4 Oktober weer ’n lekker stewige aanbod openbare gesprekke, van karre en romanse tot misdaad en die politiek. En boonop is al die gesprekke gratis, verniet, mahala.
Sorg dus dan dat jy tydens die fees minstens een keer by The Roots uitkom. Daar is altesaam 25 heel uiteenlopende gesprekke.
Hier ’n kort opsomming om jou te help besluit.
Memoires van sport tot die verhoog
- In die gesprek Die Krag van die Bomb Squad: Leierskap, spanwerk en Wêreldbekerglorie gesels Hannes Barnard met die rugbyspeler Steven Kitshoff oor sy boek Kitsie: Memoir of a Bomb Squad Bok.
- Aan die ander punt van die spektrum gesels Hannes van Wyk met die bekende pianis Rocco de Villiers in Dorpe, drome en klaviernote oor sy memoires, Klawer. Dié boek is ’n viering van die pad, die musiek en die onvergeetlike karakters wat Suid-Afrika uniek maak.
- Steeds by die kunste is daar die geliefde Tobie Cronjé se biografie, Tobie, geredigeer en saamgestel deur Chris Vorster. Tobie en Chris tree in gesprek met Marion Holm. Chris het onderhoude van die afgelope drie jaar geredigeer om Tobie se eie stem, veral oor sy kinderjare, so getrou moontlik weer te gee.
- Op ’n ietwat biografiese trant, maar dié keer met ’n poëtiese inslag, gesels Johan Myburgh en Neil Cochrane in Digters in gesprek oor taal, verbeelding en die lewe met Karen de Wet.
Van vrouwees en mawees tot romanse, menswees en moord
- In die gesprek Die stories wat ons vorm gesels die skrywer van Einde en begin, Michelè Meyer, met Phyllis Green oor dié aangrypende roman, wat handel oor die dinge wat ons agterlaat, die mense wat ons vorm, en die nuwe beginne wat uit elke einde kan groei. Phyllis Green lei ook die gesprek Grensloos en Kanniedood: Vroue wat nie terugstaan nie, waar sy met die vroueskrywers Wilna Adriaanse (Grensloos) en Irna van Zyl (Kanniedood) gesels oor hul spanningsromans waarin die hoofkarakter elk ’n sterk, onverskrokke vrou is.
- Op ’n sagter noot gesels Elize Parker (Die eilandbruid se sluier), Sunet du Plessis (Groete uit Skotland) en Frenette van Wyk (Om weer te dans) in die gesprek O, die liefde is ’n wonderlike ding met Cliffordene Norton oor hoe die liefde en geloof in hul onderskeie boeke hande vat.
- Die praatjietitel Vrouwees, in al sy fasette is voor die hand liggend. Weer is hier drie vroue aan die woord, naamlik Danielle van Heerden (Die hart van ’n ma), Gerridene Berg (Goed genoeg) en Rachelle Fourie (My hart klop so). Die gesprekleier is Ester Roux.
- Die skrywer Irma Joubert gesels op haar beurt oor haar nuwe boek, Rebekka van Kameeldoornplaas, met die bekende Elize Parker. Die hoofkarakter, Rebekka, is ’n skrander leerling, lief vir skool en haar boeke, maar haar versukkelde pa “verkoop” haar aan die Wright-gesin om in Engeland kinderoppasser te word.
- Jong mans bly nie uitgesluit van die boekgesprekke nie, en in die gesprek Seuns, mans en die soeke na behoort gesels Thys Human met Frederick Botha, die skrywer van Seuns weet. Dis ’n vars blik op die hedendaagse samelewing vanuit die oogpunt van ’n komplekse verteller wat onder verskeie soorte druk verkeer.
- Daar is twee boekgesprekke met ’n geskiedkundige grondslag. In die eerste, Nemesis – die opkoms en ondergang van die beskawing, praat die skrywer Francois Durand met Nadine Petrick oor sy boek Nemesis. Hierin word drie strome van menslike ontwikkeling – biologies, ekologies en tegnologies – saamgeweef. Nadine praat ook in Historiese Almanak met Albé Grobler oor sy boeiende versameling van stories, feite en insigte uit Suid-Afrika se ryke geskiedenis.
Rillers vir diegene wat van meer spanning en adrenalien hou
- Martin Steyn gesels met Dibi Breytenbach oor sy nuwe boek, Blinde kol. Dié gyseldrama bied ’n fassinerende blik op geestelike versteurings en die gevaarlike idees wat op die buitewyke van die samelewing floreer. Dibi Breytenbach en haar broer Henk kom ook gesels oor Doodskoot, die blitsblaaier-krimi wat hulle saam met Jan Vermeulen en Christelle Wessels geskryf het. Elke hoofstuk van die boek is omtrent so lank soos ’n Facebook-inskrywing.
- Nog ’n boek wat aandag by die fees geniet, is Die Spoegvanger deur Stefanus S. Viviers. Hy gesels met Salomé Kotze oor dié ontstellende, maar roerende vertelling van ’n jong, wit seun wat op ’n plaas aan die oewers van die Vaalrivier grootword.
Oor padvarke, podiums, die politiek – en ander aktuele sake
In die lig van onlangse skommelinge, afleggings en begrotings wat tot op die been gesny word, kry ’n mens in die Afrikaanse media kwalik ’n meer aktuele onderwerp as dié van Barnard Beukman, stigtersredakteur van Die Papier-koerant. In Glo dit of nie, die media is steeds springlewendig praat hy openhartig oor die werklike stand van sake en beantwoord ook vrae.
- Die pa- en dogter-renjaers Peter en Paige Lindenberg maak weer ’n draai by Momentum Aardklop. In Flat Out and Fearless gesels die twee met Ernest Page – Peter oor sy lang loopbaan, en Paige oor die uitdagings van vrouwees in die wêreld van spoed. Ernest Page is weer die gesprekleier vir Van Padvark tot Podium, met Paige en Kriya Gangiah. Hier is praatjies oor perdekrag maar net die vertrekpunt. Agter die renhelms, kameras en podiumplekke skuil verhale van waagmoed, opoffering en veerkragtigheid.
- Dan, wie’t gesê ons mag nie politiek praat nie? Die kenners kom weer fees toe vir ’n paar intense gesprekke in daai rigting.
Daar is: Lourensa Eckhard in gesprek, asook Gaan die plaaslike verkiesings ’n nasionale slag toedien? met Lourensa, Dr. Oscar van Heerden, dr. Pieter Mulder en Prof. Theo Venter; Pieter du Toit in Mag en politiek (oor die Paul Mashatile-boek The Dark Prince); Pierre Steyn in Magspelers en keerpunte oor sy boek Wings of Duty, Shadows of Power; en Pieter Mulder oor sy boek Parlement Praatjies.
- Wat aktuele sake betref, gesels Stefaans Coetzer met medeskrywer Graham Coetzer oor Zama Zama. Dié boek onthul die geheime wêreld van onwettige goudmynbou en die kriminele netwerke daaragter
Kinders kan lekker saam kom lees en luister
Die volledige program vir die LAPA Lekkerleesminuut moet nog gefinaliseer word, maar soos verlede jaar lees jou gunsteling-Aardklopsterre weer elke dag dieselfde plek en tyd ’n ander kinderboek voor. Bywoning is ook nie beperk tot net die kleintjies nie – kom sommer saam!
Vind al die nodige besonderhede oor die bogenoemde op die feesprogram by Aardklop.co.za, en hou ook die fees se sosiale media dop vir nuusflitse en spesiale fokusse.



