SportSport

Duan Jansen boul sy eerste internasionale bal vir ’n oud-Gimmie

Na 'n lang wag het die oud-Potch Gimmie, Duan Jansen, gister uiteindelik sy eerste wedstryd vir Suid-Afrika gespeel. Om sake nog interessanter te maak moes hy vir Lourén Steenkamp boul, 'n voormalige Gimmie en spanmaat, wat nou vir Namibië speel.

Die kanse dat die oud-Gimmie, Duan Jansen, sy eerste bal in internasionale krieket na ’n ander oud-Potch Gimmie sou afstuur, is baie skraal.

In Windhoek het hierdie skrale moontlikheid op Vrydag, 28 Augustus, voor almal se oë afgespeel toe Jansen sy Proteas T20-debuut teen Namibië maak en vir Lourén Steenkamp boul. Steenkamp het in 2015 by Gimmies gematrikuleer toe Duan en sy boetie, Marco, in Graad 9 was. Steenkamp en Duan was ook spanmaats by die Noordwes Dragons toe Duan se eersterangsedebuut in 2019 gemaak het.

Steenkamp het Duan se eerste bal in internasionale krieket na halfweg geplaas om sy eerste lopie te kry. Steenkamp sou eindig op 41 van 29 balle voordat hy uitgeboul is.

Duan Jansen het 2/32 in sy T20-debuut behaal.

Sy 41 en eerste-paaltjie-vennootskap van 84 saam met Jan Frylinck (60 van 38 balle) het die grondslag gelê vir Namibië se ongelooflike 18-lopie-oorwinning teen die Proteas.

Dit is die tweede keer in ’n ry dat Namibië die Proteas in ’n T20-wedstryd in Windhoek klop. Hulle het dit ook in 2025 reggekry met ’n vierpaaltjie-oorwinning.

Vir die debutant, Jansen, was dit ’n goeie persoonlike vertoning, al was die uitslag nie wat hy en sy spanmaats wou hê nie.

Hy het 2/32 met die bal in vier beurte behaal en sy twee paaltjies in sy laaste beurt geneem. Hy het Ruben Trumpelmann BVP betrap voordat hy Bernard Scholtz met die volgende bal skoongeboul het.

Lourén Steenkamp het ‘n goeie beurt van 41 gespeel. Foto: Cricket Namibia/Facebook

Met die kolf was Jansen nie uit nie op 25 (17 balle). Hy het een vier en ’n ses gemoker. Toe hy en Dewald Brevis (75 van 50 balle) nog saam gekolf het, het die Proteas hoop gehad, maar met Brevis se paaltjie wat val, het die momentum na die tuisspan se kant geswaai.

Die Proteas se volgende wedstryd is vandag (Saterdag, 29 Augustus) om 14:00 teen Zimbabwe in die driehoekige T20-reeks.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button