Local newsNewsNewsSponsored

VF Plus stel burgemeesterskandidaat vir JB Marks bekend

Dr. Mariska Oosthuizen-van Tonder is die VF Plus se burgemeesters kandidaat. Sy het ses kernprioriteite vir JB Marks uitgelig.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in JB Marks het verlede Vrydag, 11 September, dr. Mariska Oosthuizen-van Tonder as die party se burgemeesterskandidaat vir die 2026-plaaslike munisipale verkiesing by Loop St. in Potchefstroom bekendgestel.

Oosthuizen-van Tonder is die enigste burgemeesterskandidaat wat ’n doktorsgraad het. Sy is ’n kliniese perseptor aan die Noordwes-Universiteit en het haar doktorsgraad in gesondheidswetenskappe met verpleegkunde in 2025 verwerf.

Dr Mariska Oosthuizen-van Tonder is gereed om ‘n verskil in JB Marks te maak.

Tydens haar toespraak het Oosthuizen-van Tonder ses kernprioriteite vir JB Marks uitgelig: betroubare water, betroubare elektrisiteit, die herstel van infrastruktuur, veilige gemeenskappe, merietegebaseerde aanstellings, asook die saambinding van bestaande hulpbronne.

“Water is nie net ’n luukse nie, maar ’n reg. Ons wil vinnig reageer op lekkasies, pype wat breek, en infrastruktuur wat afgeskeep word.”

“Dit is belangrik dat ongekontroleerde verstedeliking nie ten koste van kwaliteit en die onderhoud van bestaande infrastruktuur gaan nie,” noem sy.

Dr Corné Mulder, het sy standpunte oor die opkomende plaaslike munisipale verkiesing gestel. Foto: Wouter Pienaar

Sy het ook die belangrikheid van merietegebaseerde aanstellings beklemtoon.

“Ons wil hê die regte persoon vir die werk moet aangestel word, ongeag ras of enige ander beleid in Suid-Afrika. Ons wil fokus op kandidate met die regte kwalifikasies en toepaslike erfenis en ondervinding, regoor die munisipaliteit,” stel sy.

“Dit gee my hoop om te weet dat ons kan vooruitgaan. Ons kan ons gemeenskap herstel en ons kan saamwerk om dit te doen. Ons wil nie oor mense regeer nie, maar wel saam met hulle regeer.”

Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus en die langsdienende lid van die Parlement, was ook by die geleentheid. Hy het met Potchefstromers oor die party se visie, oplossings en planne vir die komende munisipale verkiesing gepraat.

Volgens Mulder is die VF Plus ’n party wat sterk staan en nie net op die populariteit van een leier steun nie.

“As jy vir enige politieke party stem om enige ander rede as dat jy met sy waardes en sy beginsels en dit waarvoor hy staan, saamstem. As jy dit nie doen nie, dan sê ek jy mors jou stem.”

Mulder het aan raadslede en kandidate gesê dat dit nie oor hulle gaan nie, maar oor die belange van die gemeenskap.

“Dit gaan oor die gemeenskap wat jou gaan verkies, en om daardie gemeenskap te dien en ’n verskil te maak. As ons by ons gemeenskap staan, sal mense spontaan jou ondersteun en ons party sterk maak.”

Mulder het hom ook uitgespreek ten gunste van koalisies as ’n vorm van regering.

“Ek dink koalisies is ’n goeie vorm van regering, want ek het vroeër vir u gesê ek is allergies vir enige iemand wat sê: ‘Net ek, only us.’ Nee, ek glo in kollektiewe wysheid. As ons met ander mense om die tafel sit en saampraat, kom ons by beter antwoorde en neem ons beter besluite.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button