Oorsprong tref al die regte Jazz-note
In hierdie konsert is daar baie improvisasie, en ’n mens kan dadelik sien hoe goed die musikante mekaar ken en ’n aanvoeling vir mekaar se styl het.
Eerste indrukke maak saak, en dit is presies wat die musikant Marcel Dednam bewys het toe hy met sy jazzkonsert, Oorsprong, vanjaar by Aardklop gedebuteer het.
Dednam, ’n begaafde Jazz-pianis wat al lof vir sy werk saam met ander kunstenaars ontvang het, het met Oorsprong besluit om sy eie musiek sowel as verwerkings aanmekaar te sit om met musiek sy verhaal te vertel. Met die konsert vertel hy hoe hy begin het, wat hom geïnspireer het en wat die oorsprong van sy musiek is.
Vir hierdie voortreflike vertoning het Werner Spies (baskitaar/basviool) en Peter Auret (dromme) saam met hom sielvolle jazz gespeel.
In hierdie konsert is daar baie improvisasie, en ’n mens kan dadelik sien hoe goed die musikante mekaar ken en ’n aanvoeling vir mekaar se styl het. Die simbiose tussen hierdie drie is iets om te beleef, veral met Dednam se eie komposisies, soos Dovetail en Flight Funk.
Al drie musikante is briljant en speel musiek wat die hartsnare tref. Elke melodie en tempo is noukeurig aanmekaargesit. Dednam se vingers gly oor die klavier met ’n elegante grasie, terwyl Spies sy baskitaar van bo tot onder op die nek bespeel, met melodieë wat hoendervleis gee. Auret se dromspel is ook besonders, met verskillende rolle op die dromme en veranderinge in tempo. Sy gebruik van dinamika is uitstekend, en hy gebruik verskillende stokkies en slaanpatrone om dit te bewerkstellig.

Die sanger, Anna Davel en Marcel se vrou, Daryn (saksofoon), dra ook grootliks by tot die sukses van Oorsprong. Davel sing die Koos Kombuis-treffer Lisa se Klavier in ’n Dednam-verwerking wat ’n nuwe aanslag aan die lied gee. So ook word The Beatles se Let It Be ’n jazz-meesterstuk.
Daryn Dednam se saksofoonspel is iets besonders en dra ’n ekstra tikkie flair by tot elke lied waarin sy in Oorsprong verskyn. Haar solo’s is ook uit die boonste rakke en kleur die musiek verder in.
Voor ‘n mens jou oë uitvee is die konsert binne 60 minute voltooi – tog was die gevoel dat die gehoor vir nog ‘n hele uur kon luister.
Die gehoor het vir Dednam en sy medemusikante ’n staande applous gegee en ook ’n encore gekry om die konsert af te rond.



