Blinde liefde? Vlindervry ondersoek die kompleksiteit van verhoudings
Wanneer die ekspressiewe en loslit buurvrou, Griet, in die blinde Daan se lewe kom begin die vuurwerke.
Op ’n dag ontmoet die blinde Daan Bekker vir die vrygeestige Griet Smit en albei se wêrelde word omgekeer en hul denke verbreed.
Hieruit spruit ’n komplekse en interessante konneksie tussen twee mense vanuit verskillende wêrelde wat in Vlindervry uitgebeeld word.
Hierdie produksie, wat by Momentum Aardklop groot lof ontvang het, is ’n vertaling van Leonard Gershe se trefferkomedie Butterflies Are Free. Wessel Pretorius wat die regie gedoen het die teks in Afrikaans vertaal. Daar is talle unieke kwinkslae wat die gehoor op die vloer laat rol het van die lag – so hard was die lagbuie dat mens soms gesukkel het om die volgende stuk dialoog te hoor.

Die produksie begin met Daan (Heinrich Wentzel) wat kitaar speel in sy woonstel. Alles wat hy nodig het, is daar en op sy plek – presies hoe hy dit as ’n blindgebore jong man verkies. Hy het onlangs Kaapstad toe getrek om uit sy ma se vlerk te kom. Sy pa is oorlede en namate neem sy ma beheer oor sy lewe.
Griet (Jeanne-Marié Koekemoer) maak haar verskyning en hier is waar die fantastiese wisselwerking tussen haar en Daan ontstaan. Van die staanspoor af is dit absoluut komies, soos Griet eers nie agterkom dat Daan blind is nie en dan deurlopend skaam is oor haar “blinde” oomblikke. Daan maak self gedurig grappies oor sy eie beperkinge as blinde jong man, soos dat hy nie ’n sesde sintuig kan hê nie. Griet se talle “sien jou later”-opmerkings is ook baie lagwekkend.

Griet trek dadelik Daan se aandag met haar ekspressiewe persoonlikheid en belangstelling, en sodoende word hy verlief op haar. Sy noem ook gedrig dat hy “hot” is. Vuurwerke spat en die twee spandeer ’n aand saam – min wetend dat Daan se ma (gespeel deur Cindy Swanepoel) onverwags by sy woonstel opdaag en die twee halfkaal betrap. Hierdie tonele het van die gehoor so ’n bietjie laat giggel en na hul asem laat snak.
Hierdie ontmoeting is een van die beste dele van Vlindervry, met fantastiese komiese tydsberekening en die gebruik van rekwisiete, soos die yskasdeur om Griet se onderklere te bedek.

Nietemin groet Griet vir Daan se ma sommer so in haar onderklere en so is eerste indrukke ook daarmee heen.
Swanepoel is absoluut puik in hierdie rol as die ma wat alles wil beheer – van wat hy eet tot of sy woonstel skoon is. Sy spuit ook gereeld handreiniger, wat haar verder as ’n beheervraat uitbeeld – totaal anders as Griet, wat noem dat “slordig, nie vuil is nie”. Sy noem ook vir Daan “Daantjie” – iets wat hy verpes.
Wat daarna volg, is spanning tussen Daan en sy ma rondom Griet se invloed en of Daan gereed is vir ’n verhouding. Kan Griet by Daan bly en hom ondersteun – of is haar gebrek aan toewyding en commitment iets wat Daan eerder moet vermy?
Verdere vrae ontstaan wanneer Griet ná ’n oudisie vir Roelf Aucamp (Geon Nel) huis toe bring. Sy teenwoordigheid veroorsaak talle twyfel by Daan en skeur sy prentjie in twee. Daan het nie verwag dat Griet nog ‘n man sou huistoe bring nie, veral omdat hul afgespreek het om saam te eet.
Geon Nel wys sy talent in hierdie absurde rol, waar hy ’n goeie tikkie sjarme, onbewustheid en naïwiteit bring as ’n skrywer van ’n vreemde verhaal waar Griet haar klere moes uittrek.
Die hart van die stuk lê in Daan se verhouding met sy ma, sowel as sy diep belangstelling om in ’n verhouding met Griet te wees. Hulle is albei veronderstel om mekaar vry te maak: Griet van haar vrees en besluiteloosheid oor ware konneksie, sowel as Daan van sy vasgekluisterdheid in sy woonstel onder die toesig van sy ma.
Vlindervry gaan oor liefde en hoe ware Vryheid juis in mekaar te teenwoordigheid verkry kan word. ‘n Mens moet net nie blind vir die krag van liefde en ware konneksie wees nie.
Met: Cindy Swanepoel, Heinrich Wentzel, Jeanne-Marié Koekemoer en Geon Nel
Teks: Leonard Gershe
Verwerking en regie: Wessel Pretorius
Produksiebestuur: Marie Vogts & Anria Roux



