NewsNews

Ongeluk waarin twee vriende dood is, kon moontlik vermy gewees het

’n Forensiese verslag deur Barry Grobbelaar, wat die ongelukstoneel verlede jaar ondersoek het, dui daarop dat Huyser, wat die Ford Bantam bestuur het, na raming ongeveer 110 km/h in ’n 60 km/h-sone gery het.

’n Forensiese verslag dui daarop dat die ongeluk waarin twee Potchefstroomse vriende in 2019 dood is, moontlik vermy kon gewees het indien die bestuurder van die voertuig waarin hulle gereis het, stadiger gery het.

Gideon Borstlap (38), wat na bewering voor die twee vriende ingedraai het, het Donderdag, 12 November in die Potchefstroom-streekhof op twee aanklagte van strafbare manslag verskyn.

Volgens Sivenathi Gunya, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sal Borstlap na verwagting op 30 November pleit en vir voorvonnisverrigtinge verskyn.

Die ongeluk het op 15 Augustus 2019 omstreeks 19:00 by die kruising van Govan Mbeki-rylaan en Smitstraat, naby die gholfbaan, plaasgevind. Niel Grobler (19) en Kobus Huyser (28) was saam in ’n Ford Bantam toe dit na bewering met Borstlap se Mazda Drifter gebots het. Albei is op die toneel dood.

’n Forensiese verslag deur Barry Grobbelaar, wat die ongelukstoneel verlede jaar ondersoek het, dui daarop dat Huyser, wat die Ford Bantam bestuur het, na raming ongeveer 110 km/h in ’n 60 km/h-sone gery het.

Volgens die verslag het Borstlap op Govan Mbeki-rylaan gery toe hy regs in Smitstraat ingedraai het, waarna die voertuie gebots het.

Hoewel Borstlap se draaibeweging volgens die verslag die botsing veroorsaak het, kon die Ford se snelheid ook ’n bepalende rol in die erns van die ongeluk gespeel het.

Grobbelaar se berekeninge toon dat die Ford se totale stopafstand teen 110 km/h ongeveer 2,4 keer langer was as wat dit teen 60 km/h sou wees, wanneer die bestuurder se reaksietyd ingereken word.

Die verslag bevind dat die ongeluk moontlik voorkom kon gewees het, of dat die gevolge minder ernstig kon wees, indien die Ford teen die voorgeskrewe spoed gery het. Die voertuig sou waarskynlik betyds kon stilhou, wat Borstlap moontlik genoeg tyd sou gee om sy draaibeweging te voltooi.

Die verslag bevind voorts dat die Ford ten tyde van die botsing steeds in sy eie baan was. Dit verskil van Borstlap se weergawe in sy waarskuwingsverklaring, waarin hy beweer het dat die bakkie voor die botsing in sy baan inbeweeg het.

Borstlap is kort ná die ongeluk in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die saak is in 2020 van die hofrol geskrap vir verdere ondersoek nadat daar aanvanklik nie voldoende onafhanklike getuienis was om die vervolging voort te sit nie.

Die ondersoek is egter later hervat nadat die naasbestaandes van Grobler en Huyser AfriForum in 2022 genader het weens die gebrek aan vordering met die saak. ’n Nuwe ooggetuie het daarna na vore gekom en ’n verklaring afgelê, wat uiteindelik tot die hervatting van die vervolging gelei het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button