Local newsNews

Finansiering vir studente sal glo voortgaan al is NSFAS onder administrasie geplaas

Studente-finansiering sal voortgaan, toelaes sal voortgaan en universiteite sal steeds met NSFAS kan skakel.

Die Nasionale Hulpskema vir Studente (NSFAS) is met onmiddellike effek onder administrasie geplaas. Volgens die minister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela sal dit wel nie uitstaande NSFAS-betalings affekteer nie. Hierdie ingryping kan ‘n moontlike effek op studente in Potchefstroom hê.

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Buti Manamela, het die besluit Maandag, 4 Mei aangekondig ná wat hy beskryf het as ’n langdurige tydperk van onstabiliteit, finansiële wanbestuur en bedryfsprobleme binne die instelling.

Volgens Manamela kon die regering nie langer toekyk hoe die stelsel wankel nie. “NSFAS is nie bloot ’n instelling nie, vir baie gesinne is dit die verskil tussen hoop en uitsluiting,” het hy gesê.

Die stap volg op ’n reeks krisisse, insluitend massabedankings van raadslede, twyfel oor die wettigheid van die raad se samestelling, asook ernstige tekortkominge in finansiële bestuur en dienslewering. Onder die probleme tel onder meer ’n swak oudituitslag vir 2024/25, data-integriteitskwessies, agterstallige studente-appèlle en voortdurende vertragings in die uitbetaling van fondse.

NSFAS speel ’n kritieke rol in die betaling van klasgelde, verblyf en maandelikse toelaes.

Professor Hlengani Mathebula is as administrateur aangestel en neem nou volle beheer oor NSFAS oor. Hy bring meer as 30 jaar se ervaring in bestuur, finansies en institusionele leierskap na die pos.

Sy mandaat is om stabiliteit te herstel, aanspreeklikheid te versterk en die instelling se bedrywighede weer op koers te kry. Dit sluit in die regstelling van oudit- en bestuursprobleme, die verbetering van IT-stelsels en die aanspreek van agterstande in studente-finansiering en verblyf.

Manamela het beklemtoon dat die ingryping nie bedoel is om dienslewering te ontwrig nie. “Studente-finansiering sal voortgaan, toelaes sal voortgaan en universiteite sal steeds met NSFAS kan skakel,” het hy gesê.

In Februarie vanjaar was daar vertragings rondom NSFAS se beursriglyne vir 2026 wat die Noordwes-Universiteit (NWU) affekteer het. Studente het ook in die verlede vertragings en onsekerheid rondom betalings ervaar. In Janurie 2024 het die Herald berig dat NSFAS R 480 miljoen aan die universiteit geskuld het.

Die Herald het die NWU vir kommentaar rakende NSFAS genader, maar hul het besluit om nie kommentaar te verskaf nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button