Gimmies se leerders raak kreatief met rommel
Met prestasies in kreatiewe kunste, kultuur en sport bly Gimmies se leerders bewys dat harde werk, talent en spangees hand aan hand stap.
Potchefstroom Gimnasium se leerders het onlangs weer gewys dat talent by dié skool geen perke ken nie. Van kreatiewe rampmodelle en indrukwekkende verhoogoptredes tot strategiese skaakwedstryde.
Rommel word mode op die verhoog
Tydens die skool se Landsdiensaksie op 29 April het leerders hul kreatiwiteit behoorlik laat los met die tema “Rommel tot Rampmodel”. Spanne het mekaar uitgedaag in kategorieë soos active wear, evening wear en unieke bykomstighede, alles vervaardig uit herwinde materiaal.
Die middag was gevul met energie, spanwerk en oorspronklikheid, terwyl leerders bewys het hoe ver verbeelding en inisiatief hulle kan neem.
Baie geluk aan die wenspanne:
- Glam Garbage
- Royal Recycling
- Sea the Future – ’n see-tema met herwinde plastiek en ’n opvallende jellievis-konsep wat die beoordelaars beïndruk het.
Die skool het ook hul dank uitgespreek teenoor die beoordelaars entoesiasme en kundigheid.

Drama-Akademie skitter in Pretoria
Die Gimmie-gees het ook sterk op die verhoog voortgeleef toe leerders van die Drama-Akademie op 15 April aan die eerste rondte van die ShowUp-kompetisie in Pretoria deelgeneem het.
Leerders het hul talente in sang, dans en toneelspel ten toon gestel en teen strawwe kompetisie meegeding. Die groep het met verskeie brons- en silwertoekennings weggestap, terwyl Saloneé Hartman besonder uitgeblink het met ’n goue toekenning.
Die skool het hul trots uitgespreek oor elke leerder se passie, moed en toewyding, asook hul waardering teenoor die Drama-Akademie se personeel vir hul begeleiding en ondersteuning.

Skaakspanne wys hul staal
Op die sportveld het Gimmies se skaakspanne onlangs ligawedstryde teen Ferdies gespeel.
Die o.16A-span het 4–2 verloor, terwyl die o.19A-span uitstekend gevaar het met ’n oorheersende 6–0 oorwinning.
Volgens die skool is hulle trots op elke speler wat met konsentrasie, deursettingsvermoë en goeie sportmanskap deelgeneem het.




