Warm onder die kraag oor geyser
Leon en Lynn Coetzee sit al vir 5 maande sonder warm water nadat hulle geyser gebars het.
’n Bejaarde egpaar van die Harmony Immergroen munisipale aftreeoord in Potchefstroom sit al vir vyf maande lank sonder warm water. ’n Situasie wat volgens hulle nou nie net ongerieflik is nie, maar ook hul gesondheid begin raak.
Leon en Lynn Coetzee vertel dat hul probleme begin het toe hul geyser begin lek het. “Ek het dit betyds aangemeld toe ek sien daar is ’n lek,” sê Leon. ’n Loodgieter is wel uitgestuur, maar volgens hom is daar net tydelik band om die lek gedraai.
Kort daarna het die situasie dramaties vererger.
“Ons het water hoor loop en toe ons gaan kyk, het die geyser gebars. Dit het ’n groot gemors in die badkamer veroorsaak,” vertel Leon.
Die egpaar het die voorval onmiddellik by die munisipaliteit aangemeld, maar ondanks herhaalde klagtes en selfs die betrokkenheid van raadslede, het niks intussen verander nie.
“Toe dit nog warmer was, kon ’n mens vinnig deur ’n koue stort spring,” sê Leon. “Maar nou is dit bitter koud. Ons is oud, dit raak ons gesondheid.”
Die Coetzees woon reeds drie jaar in die woonstel en sê hulle voel in die steek gelaat.
Volgens JB Marks munisipale woordvoerder Jeanette Tshite, het die Waarnemende Direkteur vir die Departement van Tegniese Dienste, mnr. Moshe Legoete, bevestig dat geen formele klagte spesifiek met betrekking tot Harmonie voorheen deur die Munisipaliteit ontvang is nie.
Na ‘n media-navraag is die betrokke amptenare opdrag gegee om Harmonie te besoek om die situasie te ondersoek.
Vir die Coetzees bly die vraag egter, hoe lank nog voordat hul eenvoudige behoefte aan warm water aangespreek word?



