Gimmies se omgee raak Huis Hebron diep
Die skoolhoof, personeel, ouers en leerders het ’n buitengewone insamelingsprojek aangepak wat ’n tasbare verskil gemaak het.
Die krag van ’n gemeenskap wat saamstaan, is verlede week duidelik sigbaar toe Potchefstroom Gimnasium hul harte en hande vir Huis Hebron oopgemaak het.
Onder leiding van juffrou Amanda Duvenhage het die skool se hoof, personeel, ouers en leerders het ’n buitengewone insamelingsprojek aangepak wat ’n tasbare verskil gemaak het. Toe verteenwoordigers van Huis Hebron die skenking ontvang, was hulle letterlik stomgeslaan oor die omvang daarvan.

“Ons het nie woorde gehad nie,” sê Isabel Naudé van Huis Hebron. “Die hoeveelheid kos en die moeite wat daarin gesit is, het ons diep geraak. Met die winter wat voorlê, bring dit ’n groot verligting vir ons en ons inwoners.”
Huis Hebron huisves tans 117 mense en is tot kapasiteit gevul. Die behoefte groei egter daagliks, met oproepe vir hulp en verblyf wat voortdurend instroom. “Dit breek ’n mens se hart om mense weg te wys omdat daar eenvoudig nie plek is nie,” verduidelik Naudé. “Maar ons glo met vaste vertroue dat die Here ons sal lei om die fasiliteit uit te brei en nog kamers te bou.”

Teen hierdie uitdagende agtergrond het die bydrae van Gimmies ’n besondere betekenis. Dit is nie net die praktiese hulp wat saak maak nie, maar die boodskap daaragter, dat jongmense die nood in hul gemeenskap raaksien en daarop reageer.

“Dit was vir ons ’n openbaring om te sien hoe die leerders die nood verstaan en met soveel deernis optree,” voeg Naudé by. “Ons is opreg dankbaar teenoor elke personeellid, ouer en leerder wat deel was hiervan.”
In ’n tyd waar nood groot is en hulpbronne dikwels beperk, wys hierdie gebaar dat hoop steeds leef en dat dit soms begin by iets so eenvoudig soos ’n skoolgemeenskap wat besluit om ’n verskil te maak.



