Inspirasie van die week: Musieklegende op 80
Vir die 80-jarige Suzette Wilkens is sang en musiek veel meer as net note op papier.
Vir sommige mense is musiek bloot ’n melodie. Vir ander word dit ’n roeping wat oor dekades harte aanraak en lewens verander. Vir die 80-jarige Suzette Wilkens is sang en musiek veel meer as net note op papier, dit is ’n lewenspad van genade, diens en liefde wat reeds oor meer as ses dekades strek.
Suzette is op die klein dorpie Ottosdal gebore en het in Delareyville grootgeword. In 1959 het sy haar skoolloopbaan by Hoër Volkskool begin waar sy in Ons Hoop-koshuis tuisgegaan het. Teen 1963 het sy gematrikuleer, sonder om te weet dat Volkies en Potchefstroom vir die grootste deel van haar lewe haar geestelike en professionele tuiste sou word.
Na skool het sy by die Noordwes-Universiteit onderwys gaan studeer en ’n hoër onderwysdiploma verwerf, met Afrikaans en geskiedenis as hoofvakke. Hoewel musiek reeds in haar hart gebrand het, was haar pa se raad destyds duidelik.
“My pa het altyd gesê mens studeer nie musiek nie, want daar is geen werk daarin nie,” vertel Suzette met ’n glimlag.
Sy het haar onderwysloopbaan in Lichtenburg en Middelburg begin, maar die bande met Potchefstroom en Volkies het nooit losgeraak nie. In 1987 het sy teruggekeer na Potchefstroom, ’n besluit wat ’n nuwe hoofstuk sou inlei. Dit was juis toe dat Suzette besluit het om die droom wat lank in haar hart geleef het, finaal aan te gryp.
Sy het ’n graad in musiek aangepak, met sang as hoofvak. Vir vier jaar het sy haar talent verder ontwikkel onder leiding van professor Werner Nel. In 1991 het sy by Hoër Volkskool begin om musiek en sang aan te bied, ’n rol waarin sy nie net stemme gevorm het nie, maar ook selfvertroue, dissipline en liefde vir kuns by jongmense gekweek het.
Vier jaar later, in 1995, het sy saam met Volkies die eerste Musiekskouspel aangebied, ’n produksie wat later ’n geliefde instelling sou word. Daarna het die skouspel elke tweede jaar die verhoog betree, in 1997, 1999, 2001, 2003, 2005, 2007, 2009 en 2011.
Vir 18 jaar lank het Suzette met passie musiek en sang by Volkies aangebied voordat sy in 2012 amptelik afgetree het. Maar vir haar was aftrede nooit die einde van die lied nie. Selfs ná haar pensioen het sy nog 14 jaar lank aangehou om musieklesse te gee.
Vandag, op 80-jarige ouderdom, stap sy steeds drie dae per week die gange van Volkies binne om sanglesse aan te bied. Daarby gee sy ook lesse vanuit haar huis, waar sy tans 17 voltydse sangleerders van verskillende skole begelei.
Vir Suzette is hierdie pad egter nie haar eie prestasie nie, maar iets veel groter.
“Dit is die Here se toedoen en nie my eie nie. Dit is wat Hy oor my lewe uitgespreek en toegewens het. Dit is net genade dat ek gesond is en tyd het om dit steeds te doen,” sê sy dankbaar.
Agter haar staan haar man van 57 jaar, Tjakke, wat haar deur elke noot en verhoogervaring ondersteun het.
“Hy ondersteun my al die jare honderd persent en het ook net so lief geraak vir my studente,” vertel sy.
En dan is daar Kollies, haar getroue Skotse skaaphond (borderkollie) wat glo nie sommer ’n les misloop nie. Kollies het haar selfs Volkies toe vergesel en het só deel van die musiekfamilie geword.

Sy gee steeds sanglesse op 80. Foto: Tania Coetzee
Wanneer Suzette terugkyk oor haar lewe, 65 jaar van betrokkenheid by Potchefstroom en Hoër Volkskool, dekades van onderrig, produksies en honderde studente, is dit nie prestasies of erkenning wat eerste na vore kom nie, maar dankbaarheid.
Sy en Tjakke is die trotse ouers van twee dogters, waarvan een ’n kunstenaar en die ander ’n prokureur is. Maar dit is die jong stemme wat deur die jare haar klaslokale gevul het, wat steeds diep spore in haar hart laat.
“Die kinders het diep in my hart ingekruip,” sê sy.
Vir Suzette Wilkens was musiek nooit bloot ’n beroep nie, dit was ’n roeping. En terwyl haar stem dalk al oor duisende lesse en verhoogproduksies weerklink het, is dit waarskynlik die lied van geloof, liefde en toewyding wat die sterkste bly voortleef



