Local newsNewsNews

136 jaar se stories in pragtige M.L Fick Gedenksaal vasgevang

Tussen die mure van die Gedenksaal is M.L. Fick se geskiedenis oor generasies uitgebeeld.

Die visie van Laerskool Laerskool M.L. Fick se skoolhoof, mnr. Heyns Deacon, om 136 jaar se ryke skoolgeskiedenis in ’n gedenksaal te omskep, het op Donderdag, 21 Mei 2026, vrugte afgewerp.

Mnr. Heyns Deacon en Mev. Ciska Kruger tydens die lintknipseremonie van die Gedenksaal. Foto: Chrisandi Grewar

Dit is dalk juis gepas dat hierdie besondere aand op die 21ste plaasgevind het, want ná ’n jaar se beplanning en samewerking tussen die personeel, oud-Emmies en die breë gemeenskap, is die M.L. Fick Gedenksaal amptelik mondig verklaar.

Video: Wouter Pienaar

Deacon se droom was om die Ou Saal te omskep in ’n plek wat die geskiedenis vasvang, maar ook estetiese gewig dra, en dit is presies hoe die eindproduk lyk – modern, tradisieryk en eg Emmies.

Volgens Deacon het hy verlede jaar die idee gekry om die Ou Saal te omskep, en met die hulp van talle rolspelers in die gemeenskap is die visie nou ’n fisiese realiteit.

“Dit is ’n plek wat nie net die verlede eer nie, maar ook die toekoms inspireer. Ons kyk met waardering na die geskiedenis van ons skool waar personeel ’n kultuur van uitnemendheid met passie en harde werk gevestig het,” het Deacon gesê.

Sien meer foto’s van die spogaand hier:

As ’n mens in die M.L. Fick Gedenksaal staan, word al die aandenkings en geskiedenis op die houtvloer en teen die mure lewend. Dit neem ’n mens op ’n reis deur al M.L. Fick se hoofstukke van die 1800’s, 1900’s en 2000’s.

Twee M.L. Fick-prefekte, Amé Vermaak en Caitlyn Snyman, het eregaste op ’n reis geneem vanaf die stigting van die skool deur ds. M.L. Fick in 1890 as De Armenschool. Die skool is in 1955 van Suidskool na M.L. Fick herdoop. Emmies is die oudste Afrikaanse laerskool noord van die Oranjerivier.

“Daar was nie moderne klasse of sportvelde (in die begin) nie, maar daar was iets baie sterker – ’n geloof in die toekoms,” het Amé in haar toespraak gesê.

“Hierdie museum is vol stories. Stories wat kinders se lewens verander het. Vanaand eer ons elke persoon wat die skool gebou het tot waar dit vandag is. Die mooiste deel van hierdie verhaal is dat dit nog nie klaar geskryf is nie,” het Caitlyn gesê.

Die voormalige M.L. Fick-skoolhoof, mnr. Lourie van der Merwe, het die gedenkplaat onthul. Familie van voormalige skoolhoofde was ook teenwoordig by hierdie spoggeleentheid, sowel as oudleerders en onderwysers wat ’n reis deur die geskiedenis kon neem.

Tannie Fien Tiedt het op 106-jarige ouderdom ook die funksie saam met haar seun, dr. Johan Tiedt, bygewoon. Tannie Fien is ’n oudleerder van M.L. Fick en het ook daar skoolgegee en duisende kinders geïnspireer.

Tannie Fien Tiedt en Mnr. Heyns Deacon ontvang FAK-toekennings van Lieandri Ackermann. Foto: Chrisandi Grewar

Sy en Deacon het albei toekennings van die FAK vir hul bydraes ontvang.

Die M.L. Fick-koor, onder leiding van mev. Paula Aucamp, het met ’n opvoering van Laurika Rauch se lied, Huis, dalk die hart van die M.L. Fick Gedenksaal vasgevang.

“En waar ook al jy is
Net daar is ek tuis
Omskep hierdie hart
Kom maak dit ’n huis.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button