LetterOpinions

Eis politieke en kulturele ruimte op

Die debat oor Afrikaans en Afrikaners lig tot dusver drie denkrigtings uit.

Gerhard van der Merwe skryf:
Die debat oor Afrikaans en Afrikaners lig tot dusver drie denkrigtings uit.
Eerstens diegene wat sterk voel oor Afrikanerskap, die taal en kultuur, en glo dat ons toekoms slegs verseker sal word deur die skepping van alternatiewe strukture en die uitbou van burgerregte organisasies soos AfriForum.
Geen effektiewe politieke rol vir Afrikaners word voorsien nie. Ironies genoeg stem die meeste van hierdie mense vir die DA, wie se beleid reëlreg bots met die beginsels en doelwitte van AfriForum.
Dan is daar die groep wat glo dat die uitbou van inheemse tale en kulture soos verskans in die grondwet, moet plek maak vir ’n eentalig Engelse samelewing. Behalwe vir die oppervlakkige kommersiële aanwending/uitbuiting van inheemse tale en kulture, het hulle vir hul eie en die breër Suid-Afrikaanse erfenis geen nut nie. Sommige distansieer hul selfs aktief van hul Afrikanerskap, so asof hulle so pas toevallig hier aangeland het. Hulle glo dit is polities korrek en ondersteun die ANC of die DA.
Derdens is daar die groep wat klaarblyklik glo dat ons “noodgedwonge”, maar skynbaar onwillig, moet afstand doen van ons taal en kultuurregte. Hulle lê klem daarop dat ons meer “inklusief” moet voorkom en liefs nie as Afrikaners moet aanspraak maak op ons regmatige plek in enige openbare ruimte nie. Afrikaans sal voortbestaan as huistaal en kan geniet word by musiekfeeste ensomeer.
Om jou as Afrikaner te beywer vir die taal en kultuurregte van nie net Afrikaners nie, maar vir alle minderhede, word deur hierdie groep gesien as “eksklusiwiteit”. Dus nie polities korrek nie.
Hierdie groep is ook grootliks DA ondersteuners en onderwerp hulle aan die DA konsensus van “Afrikaners moet gesien en nie gehoor word nie”. Ook polities korrek. Die probleem met al bogenoemde is dat dit onderlê word deur ’n gevoel van minderwaardigheid en ontmagtiging. Daar word dus geglo dat die Afrikaner nie in staat is om hom volledig en konstruktief in die SA gemeenskap te laat geld en uit te leef nie, veral polities.
So ’n aanname is gevaarlik en selfondermynend en sal verseker dat die Afrikaner en Afrikaans slegs ’n voetnota in die geskiedenis word. Alle Afrikaner/Afrikaanse instansies behoort mekaar aktief te ondersteun in die verwesenliking van ons gedeelde doelwitte. Dit is tyd dat Afrikaners hul konstruktiewe rol op alle vlakke van die samelewing waardeer en met trots weer hul politieke- en kulturele ruimte opeis.
Dit kan slegs gebeur met behoorlike verteenwoordiging in die wetgewende strukture soos stadsrade en die parlement. Die VF Plus is die enigste party wat hom vir minderheidsregte en Afrikanerbelange beywer en is daarom instrumenteel om te verseker dat ons met selfvertroue, ook polities, respek in Suid-Afrika afdwing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button