
Daar gaan maak die Bokke weer geskiedenis vir al die verkeerde redes.
Die eerste keer ooit dat die Iere ons kom klop op eie bodem.
Hande in die lug vra ek nou wat het verkeerd gegaan? Die verduideliking van die afrigter is bloot dat ons nie goed genoeg was nie.
Dit is so ooglopend dat dit nie ‘n rugbykenner vat om dit raak te sien nie. Alhoewel ‘n Bokspan nooit teen die Iere moet verloor nie, veral nie op Nuweland nie, moet ons toegee dat die Iere met baie meer passie as die Bokke gespeel het, hulle was beter met die bal in die hand, maar hulle verdediging is wat ons sag gemaak het.
Ons het weer eens nie gelyk of ons enige plan het nie, veral toe ons onder druk moes begin speel.
Vir omtrent ‘n uur lank het die Bokke teen 14 Iere gespeel en nie een keer gelyk of hulle die ekstra man benut nie. Willie le Roux het ’n paar keer besit weggeskop wanneer volgens my, die bal behou moes word juis omdat jy meer spelers op die veld het. Adriaan Strauss het meer kontak gesoek wanneer hy die bal aan die buitekant gekry het, in plaas daarvan om die bal uit te gee.
Baie Bok ondersteuners gee transformasie die skuld.
Ek stem nie regtig daarmee saam nie. Hoewel die spelers nie op die dag hulle kant gebring het nie, is die groep nie swak nie. Elke speler in die groep het baie talent en verdien sy plek in die span. ’n Groter kwessie vir my is die feit dat dit lyk asof die spelers die tipe rugby wat hulle by hulle provinsies speel, wil speel in ’n boktrui. Veral wanneer hulle onder druk is. In kort, Strauss val terug op die manier waarop die Blou Bulle speel wanneer dit blyk dat die bokplan nie meer werk nie.
Al die spelers doen dit, maak nie saak van watter provinsie af hulle kom nie.
As daar gekyk word na die Nieu-Seelandse spanne, speel al hulle spanne op dieselfde wyse.
Dit wys duidelik wanneer die groep spelers die All Black trui oor die kop trek. Dit is baie makliker vir die afrigter om almal vinniger op dieselfde bladsy te kry.
Daar moet ook in ag geneem word dat die Noordelike Halfrond-spanne onlangs van ’n Sesnasies-kompetisie af kom waar hulle spanne reeds uitgesorteer is.
Dit was duidelik wanneer daar na die ander wedstryde gekyk is, waar die Walliesers die All Blacks opdraande gegee het en die Engelse die Wallabies geklop het.
Dalk is dit tyd dat die bokbreier saam met al die provinsies bymekaar kom om ‘n plan uit te dink sodat daar al op provinsiale vlak al ’n tipe eenvormigheid in spel is.



