BlogsOpinions

Tinkie sê: Waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie…

Dit is baie erg dat ‘n mens eers ‘n soort piromaan moet wees om gehoor te word. Mense sê daar word glad nie na hul versoeke geluister nie en daarom beskadig hulle eiendom en steek alles aan die brand wat voorkom. En steel ook.

Dit is baie erg dat ‘n mens eers ‘n soort piromaan moet wees om gehoor te word.
Mense sê daar word glad nie na hul versoeke geluister nie en daarom beskadig hulle eiendom en steek alles aan die brand wat voorkom. En steel ook.
Want net as daar vlamme en rook is, word hulle gehoor. Die rook is hul stemme.
Ek het tóé so by my selwers begin wonder waarom busse altyd eerste aan die brand gesteek word.
Ek dink dit is dalk van die taxi-manne wat nie die busse, wat in direkte kompetisie met hulle is, daar wil hê nie en net as daar n oproerigheidjie sy kop uitsteek, vuur hulle die rook aan deur die busse met vuurhoutjies en petrol te bestook. Só voer hulle hul eie oorloggie, sonder dat n haan na rekenskap kraai.
So: Róók, dié moet blykbaar daar wees om gehoor en gesien te word. Behalwe as dit in die geheim gedoen word, soos vier rammetjie-uitnek-standerd-sewe-seuns hulle toentertyd daarmee misgis het.
Die keuse van sigarette vir die vier standerd sewe pelle, was wyd.
Daar was Gold Dollar, Lucky Star, Lucky Strike, Camel, Peter Stuyvesant, Rothmans King size, en Mills wat in blikkies verpak was en uit Engeland ingevoer is. Uit die aard van die saak, was dít te duur. En natuurlik zolle, wat die goedkoopste was. ‘n Zol is wanneer los tabak in koerantpapier toegedraai is en gerook is totdat die dampe by jou ore uitgekom het.
Só loop die vier taaies met kort-kort ‘n “howzit my china?” tot by Wasgoedspruit, waar die rokery begin.
Dit hoes en proes en tot die katte vlug, voordat hulle geskiet word!
Die seuns loop met Kerkstraat af tot by die destydse ou Grand Fliek en gaan sit agter om verder te rook. Maar nie agter op die verhoog nie. Dáár het die ou menere in hul eie dampkring gesit en rook. En gevry. “Multitasking”op sy beste.
Met die terugkeer by Wasgoedspruit, stook die brekers hulself tot in boomstraat. Van die manne lag eers lekker, maar later word hul naar en gooi op. Sommiges se ingewande maak tót peristaltiese bewegings terwyl daar niks uitkom nie.
Al vier was hondsiek hierna.
“Nooit óóit weer nie”, sê ‘n bleke Gé Kotze. “Dit was regtig nie lekker nie.”
Gelukkig was daar nie vlamme by dié rokery nie, want húlle wou vir seker nié gesien óf gehoor word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button