Die reaksie op die Herald se spesiale skole uitgawe was absoluut oorweldigend.
Ons het nuus van oral heen ontvang en ook self probeer om interessanthede by skole uit te wys. Afhangend van die sukses van hierdie spesiale uitgawe, sal ons dit oorweeg om ten minste een maal per kwartaal so ‘n spesiale uitgawe uit te bring. Dit is ongelukkig so dat, hoewel die hele uitgawe aan skole toegewy is, daar steeds van die nuus wat aangestuur is, gaan uitval. Ons het steeds na die nuus gekyk om te bepaal dat dit aan sekere kern nuuswaardes voldoen. Ongelukkig was daar steeds nie genoeg plek vir alles nie.
Die koerant kan net groter word as dit deur advertensies ondersteun word. Die getal advertensies bepaal die getal blaaie. Hoe meer mense in die koerant adverteer, hoe meer nuusblaaie is tot die Herald se beskikking.
So hoe meer besighede in die koerant adverteer, hoe meer blaaie is daar om nog meer nuus aan te bied. Die koerant kan nie bestaan sonder sy adverteerders en die gemeenskap nie. Daarom is dit noodsaaklik om vir albei dankie te sê vir die ondersteuning tot dusver.
Elke joernalis doen sy/haar beste om vir die gemeenskap nuus te gee waarin hulle belangstel, wat hulle behoort te weet en sommer ook die interessanthede van die stad waarin ons woon.
Die besighede wat die Herald ondersteun moet ook ’n woord van dank kry.
Dankie aan elke besigheid wat die Herald vertrou met die groei van die onderneming.
Ons hoop en vertrou dat daar sommer baie mense is wat hierdie spesiale skole uitgawe gaan koop sodat dit vir ons die moeite werd sal wees om weer so ‘n projek aan te pak.



