BlogsEditor's noteOpinions

Van die Redakteur: Geweld in Klerksdorp dalk ‘n klein voorskou vir Potchefstroom

Rapport het op 21 Maart berig oor die sogenaamde ‘tender-bendes’ wat ‘n skrikbewind in Klerksdorp voer. Die bendes is glo ongelukkig omdat hulle nie tenders van die munisipaliteit kry nie.

Rapport het op 21 Maart berig oor die sogenaamde ‘tender-bendes’ wat ‘n skrikbewind in Klerksdorp voer. Die bendes is glo ongelukkig omdat hulle nie tenders van die munisipaliteit kry nie.
Hulle intimideer munisipale werkers en sodoende keer hulle onder meer dat vullis verwyder word en dat die lisensiekantore kan oopmaak.
Voertuie en selfs huise is al aan die brand gesteek.
Alhoewel diè vlak van geweld nog nie in Potch gesien is nie, is daar tog ‘n klein voorskou van wat moontlik kan kom.
Lede van verskeie KMMOs het onlangs mense wat slaggate herstel, probeer keer.
ALS, ’n privaat maatskappy, het die kwessie van slaggate onder hande geneem en begin herstel.
Hulle het ook onderneem om opleiding te gee sodat die slaggate in die toekoms reg herstel kan word. Die lede van die KMMOs was nie tevrede dat die maatskappy die werk doen nie en wou vir tenders beding.
Waar ALS die teer by die munisipaliteit verniet ontvang het om slaggate te herstel, moet hulle nou self al die materiaal aankoop.
Vroeër die jaar het dieselfde groep KMMOs die grawe van slote vir die lê van veseloptiese kabels ook stopgesit.
Volgens die groep is geen plaaslike arbeiders of maatskappye vir die werk gebruik nie.
Dit het daartoe gelei dat die werk soms vir maande stilgestaan het.
Werkers wat wel gebruik is, is ook geïntimideer. Mense is ook glo met sambokke aangeval om nie met die werk voort te gaan nie.
Die groepe ontken dit egter.
Daar moet daadwerklik opgetree word om te keer dat dieselfde wat in Klerksdorp gebeur, nie ook hier in Potchefstroom kop uitsteek nie.

 

Related Articles

 
Back to top button